Al die ongevoeligheid teenoor oorgewig mense maak my hartseer. Dis so maklik om te kritiseer wanneer jy by “vettes” verbystap.

Mense staar hulle aan, lag hulle uit of maak neerhalende opmerkings.

Dit maak nie saak wat die rede vir iemand se gewigsprobleem is nie, niemand het die reg om iemand anders sleg te behandel of te stereotipeer nie.

Ek het ’n familielid wat oorgewig is. Maar hy is bogemiddeld intelligent, bedagsaam en goedhartig.

Waarom kan oorgewig mense nie ook normaal behandel word nie? Hy is dalk verslaaf aan kos, maar pla niemand.

Kom ons gun almal ’n plek in die son

Hoeveel mense met ’n uiterlik goeie lyf misbruik drank agter geslote deure of mishandel vroue en kinders in die geheim?

Hoe sou dit vir hulle gewees het as hul “afwykings” ook uiterlik sigbaar was, nes oormatige gewig, sodat mense ’n etiket om hul nek kon hang net waar hulle gaan?

Kom ons gun almal ’n plek in die son. Nes party swoeg om op te hou rook of drink, sukkel oorgewig mense om op te hou eet.

Anoniem

Skryf aan ons
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Briewe moenie langer as 200 woorde wees nie. Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die redaksie nie. Die skrywer van die wenbrief kry R300.