Met die lees van die artikel oor die Driehoekramp (’n Gemeenskap in rou ná brugramp) voel ek elke kind se skok en seer. My hare rys. Die trane loop. Ek besef my seer is nog net so rou soos 47 jaar gelede.

Ek was 13 jaar oud. Ek en my vriendin was leerders aan die Hoërskool Wonderboom in Pretoria en het aan die jaarlikse Lenteloop deelgeneem.

In ’n stadium hoor ons net gille. In die omdraai sien ons hoe kinders deur die lug trek.

’n Motoris het 21 kinders getref. Een is oorlede en die res beseer. Die motor het teen ’n verkeerslig tot stilstand gekom – anders het sy ons ook getref.

Vir maande daarna kon ek nie slaap nie. Die gille het in my kop bly draai. 

Ek is dankbaar vir elke pastoor en sielkundige wat die ouers en kinders van die Hoërskool Driehoek bygestaan het. Ons is nie eens ’n drukkie gegee nie. Geen onderwyser het ons kom vra of ons oukei is nie.  

My hart gaan uit na elke kind wat daardie dag beleef het. Gaan asseblief vir berading.

– Mickey de Jager

  • E-pos hgnbrief@huisgenoot.com
  • Briewe moenie langer as 200 woorde wees nie. 
  • Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die redaksie nie. 
  • Die skrywer van die wenbrief kry R300