Ek kan nie verstaan hoekom die vrou altyd van die man ’n ophef moet maak nie.

Hoekom moet die vrou altyd die man se ego streel? Hoe vertel jy vir ’n boepens hy’s sexy? Hoe lag jy vir ’n man se grappies as hy geen humorsin het nie? Hoe maak jy jou heeltyd mooi vir ’n man wat in elk geval nooit vir jou ’n kompliment gee nie? Hoekom moet ek ons huislike omstandighede na sy smaak skep terwyl ek nog voltyds werk ook? Wat doen hy vir my?

Ek sorg geldelik vir myself. Ek vra hom nie ’n sent nie. Maar steeds moet ek soos ’n skouperd vir hom lyk.

Jy is nog jonk en mooi. Daar is niks fout met jou nie. Jy gaan weer ’n man kry.

Nee, Gretha Wiid (Die derde keer is net té seer, 28 November), die huwelik kom van twee kante af.

’n Man moet sy kant bring. Hy moet na sy vrou omsien; jy is die kroon op sy kop.

En glo my, as ek so na jou en jou man kyk, is jy beslis ’n kroon vol edelstene op sy kop. Die fout lê nie by jou nie, Gretha. Jy sal moet besef jy is goed genoeg.

Die probleem is jou man wat nie getrou was aan een vrou nie. Maar ten spyte van alles bly jy lief vir hom.

Ek kan dit nie verstaan nie, maar een ding is seker: Vroue moet begin opstaan vir hulself. Drie keer het hy jou verneder.

Ek is bitter bly jy het dié keer weggestap. Net jammer jy het dit nie lankal gedoen nie.

Jy is nog jonk en mooi. Daar is niks fout met jou nie. Jy gaan weer ’n man kry.

’n Man wat jou sal koester en mooi na jou sal kyk.

Ek sluit maar hierdie skrywe af met ’n skuilnaam, anders is ek dalk ook een van die dae weer enkellopend.

– Anti-Rondloper