Jy is dalk een van die baie mense wat glo iemand met gebreke is nie in staat om vir groot maatskappye te werk nie.

Kom ek vertel jou my storie.

Ek is gesiggestremd, en as gevolg daarvan was my laerskooljare in ’n “gewone skool” ’n stryd.

Van kleins af het ek maar weggekyk wanneer ander kinders na my gestaar het. Ek is natuurlik ook gespot, maar het geweier om die afknouery te voed deur te reageer. En hoe minder reaksie ek getoon het, hoe meer het dit tot die vrede bygedra.

Hulle kon later sien dit help nie om my te boelie nie.

Namate ek ouer geraak en tot gr. 7 gevorder het, het ek ook vriende gemaak wat my omstandighede verstaan het. Vanjaar het ek my matriek aan die Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn suksesvol voltooi.

Ek moet bieg ek het aanvanklik gedink dit sou weens my gestremdheid onmoontlik wees om in so ’n “gewone” skool te funksioneer. Maar die skoolhoof, mnr. Stephanus Potgieter, en sy wonderlike personeel het altyd verseker dat my notas en vraestelle vergroot word sodat ek dit kon lees.

Tuis is ek al van kleins af geleer om positief te wees en in Langenhoven het hulle daardie saadjie volkome ontwikkel. My gestremdheid het nie my talente en stokperdjies beperk nie. Ek was deel van die skool se klankspan en het elke taak na die beste van my vermoë aangepak.

Onthou, ’n positiewe lewensuitkyk sal jou baie grys hare spaar en vriendelikheid kan dalk net die dag van die suurknol langs jou opkikker. Ek staan elke oggend op met die grootste glimlag, slaggereed vir die dag.

Dié seuntjie kan dalk nie so mooi sien nie, maar vir uitdagings skrik hy nie. 

Deel jou storie
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.