Sy pa het een droom vir hom gehad en dit was dat hy verder moet gaan studeer. Joshwin Sampson (21) se oorlede pa, Charlton Pienaar, was ’n munisipale werker in George in die Wes-Kaap.

Al moes hy en sy vrou, Carmen (44), ook ’n munisipale werker, die rieme dun sny om vir Joshwin en sy broer, Craig (18), te sorg, het die sorgsame pa ’n plan gemaak om geld bymekaar te skraap vir sy oudste se studie.

Met dié bykomende finansiële uitdaging het Charlton ál dieper in die skuld verstrengel geraak. Toe hy sy werk verloor, het die swart hond aan hom begin knaag.

In Desember 2016, aan die einde van Joshwin se eerste jaar as kommunikasiekundestudent aan die Universiteit van die Vrystaat, het Charlton (toe 40) sy eie lewe geneem.

’n Paar dae voor Joshwin vandeesmaand sy graad in Bloemfontein gekry het, het hy met sy toga en hooftooisel vir sy pa by sy graf gaan dankie sê vir al die geleenthede wat Charlton hom gebied het.

’n Foto wat Joshwin daarvan op Facebook geplaas het, het mense so ontroer dat dit wyd versprei is. Joshwin dra sy ma se nooiensvan omdat hy voor sy ouers se troue gebore is, maar in die toekoms wil hy sy van na Sampson-Pienaar laat verander ter ere van die pa wat soveel vir hom gedoen en beteken het.

Charlton
Joshwin se pa, Charlton Pienaar, het in Desember 2016 sy eie lewe geneem. Foto: Verskaf

Vir Huisgenoot het hy die groot dankie wat hy op die hart het so in ’n brief aan sy oorlede pa verwoord:

Liefste Daddy Terwyl ek grootgeword het, het ek altyd gesê ek wil ’n dokter of rekenmeester of akteur word. Al het hierdie drome by tye ’n bietjie buitensporig geklink vir ander mense, het jy my altyd aangespoor om my drome na te jaag.

Jy’t my geleer dat ek nooit myself en dit waartoe ek in staat is, moet beperk nie. Jy was ’n jack of all trades. Jou hande het vir niks verkeerd gestaan nie.

En nes ek het jy jou kragtigste wapen – jou brein – geoefen en doeltreffend gebruik. Jy kon tuinmaak, bouwerk doen, elektriese toestelle regmaak; jou algemene kennis was besonder goed; en jy was ’n ywerige leser. Jy was ’n engelmens vir almal wat jou geken het.

Ons gesinnetjie van vier het dit nie finansieel breed gehad nie; inteendeel, ons het min gehad, maar genoeg om in ons basiese behoeftes te voorsien. Wat vir my belangrik was, is dat die krag van liefde ons huis oorgeneem het.

‘Jy’t ons nooit sonder kos laat gaan slaap nie, al het dit beteken dat jy self met ’n leë maag gaan lê het’

En dit gee soveel meer betekenis aan die stelling “Geld kan nie geluk koop nie”. Toe dit wel finansieel moeilik met ons gegaan het, het jy jou diep in die skuld gedruk net sodat ons ’n stukkie brood op die tafel kon hê en krag in die huis.

Jy’t ons nooit sonder kos laat gaan slaap nie, al het dit beteken dat jy self met ’n leë maag gaan lê het. Dis vir my die toonbeeld van ’n selflose omgee-ouer.

Toe ek in 2016 met universiteit begin sonder enige eksterne finansiële bystand, het ek soos ’n mislukking gevoel, want ek was bewus van die groot druk wat ek op jou plaas. Maar steeds het jy altyd seker gemaak ek het iets te ete, handboeke en ’n buskaartjie huis toe en terug vir wanneer die vakansie aanbreek.

Ek het nie besef hoeveel druk ek op jou geplaas het nie, en omdat jy dit so goed kon wegsteek, was ek onbewus van die trauma waardeur jy moes gaan. Ja, jy was baiekeer fisiek siek, maar ek’t nooit gedink dat jou sielkundige gesondheid ook in die gedrang is nie.

Jy’t later jou werk verloor, en ek is seker dit het jou nog meer geknak. Ek kan my net indink wat deur jou kop moes gaan. Ons het reeds finansiële probleme en nou sit jy sonder ’n werk.

Bygesê, jy is die man – die hoof van die huis. Ek is seker dit het jou magteloos en soos ’n mislukking laat voel. Ek was al self voorheen in ’n diep, donker gat toe dit gevoel het asof alles om my in duie stort.

Ek het toe die wêreld deur oë begin sien wat nie eens meer ’n traan kon stort nie. Ek was fisiek, geestelik en sielkundig afgemat weens die druk wat ek op jou geplaas het.

Wanneer ek dink aan hoe moedeloos ek toe was, word ek bewoë wanneer ek dink aan hoe alleen jy moes gevoel het. Hoe gefrustreerd jy moes geraak het toe alles uitmekaar begin val.

Hoe vasgevang jy moes gevoel het toe depressie jou hele wese oorneem. Gelukkig kon ek myself destyds weer vind nadat ek hulp gesoek het, maar jy moes tot die bitter einde met hierdie siekte worstel.

Die oggend van jou dood het my ma gaan werk en ek was vas aan die slaap in my kamer. Ek’s nie seker of jy geweet het ek is tuis nie. Ek’t twaalfuur die middag opgestaan, gebad en vir my niggies by hul huis gaan kuier.

Ek’t heeldag in my gees gevoel daar is groot fout. Die liedjie Môre Sal die Son Weer Skyn het uit die bloute by my opgekom.

Ek kon dit nie verstaan nie. Dit was verskriklik vreemd. Nadat my ma uitgeklok het by die werk, is ons saam van my tannie af terug huis toe. Die werkkamer waar jy elektriese toestelle reggemaak het, was van binne toegespyker – wat vreemd was.

‘Ek wou so graag hê dat jy langs my moes staan op my 21ste verjaardag en my sleutel aan my oorhandig’

Toe het ons werklik besef daar is fout. Ons het vir my oom, jou broer, gevra om die deur af te breek.

Toe dit eindelik oopgebreek is en ons jou leweloos daar sien, het dit gevoel asof ek in ’n nagmerrie vasgevang is waaruit ek nie kan wakker word nie.

Ek het meteens lam gevoel en asof ek van my kop af raak. Hoe het dit gebeur? het ek myself aanhou vra.

Ná jou begrafnis kon ek nie eet of slaap nie. Dit het gevoel asof die wêreld my verraai het. Ek het verwyte en onbeskryflike hartseer saam met my gedra, maar ná menige sielkundige sessie is ek nou op die pad na genesing.

Joshwin en sy ma
Joshwin en sy trotse ma, Carmen Pienaar, nadat hy vroeër vandeesmaand sy graad in kommunikasiekunde aan die Universiteit van die Vrystaat ontvang het. Foto: Verskaf

Ek wou opskop ná jou heengaan, maar ek het myself daaraan herinner dat ek dit nie net vir myself doen nie, maar ook vir jou, ons hele gesin en die mense wat my aanhou ondersteun het ná jou heengaan en my moed ingepraat het wanneer my emosies my oorgeneem het.

Ek is dit aan jou verskuldig. Ek’t vanjaar 21 jaar oud geword en graad gevang. Dis oomblikke soos dié wat my weer bewoë maak. Ek wou so graag hê dat jy langs my moes staan by die tafel op my 21ste verjaardagpartytjie en my sleutel aan my oorhandig.

Net so wou ek gehad het dat jy op die dag van my gradeplegtigheid in my vreugde moes deel. Jy sou heel waarskynlik die wêreld vol gespog het oor my prestasie, maar ek glo en weet dat jy dit in die gees saam met my vier.

My doel is om ná al die trauma die beste weergawe van myself te word. Ek is steeds op soek na my passie in die veld van kommunikasiekunde; daarom doen ek tans my honneursgraad in mediastudie en joernalistiek, en ek weet jy hou my hand vas.

Aangesien jy nie fisiek kon deel hê in my gradeplegtigheid nie, het ek besluit ek gaan jou graf besoek en eer aan jou betoon vir alles wat jy vir my gedoen het.

Al kon jy die afgelope twee jaar nie daar wees, is dit danksy jou dat ek aanhou veg het, ongeag hoe moeilik dit was. En ek beloof om jou van vandag net nog trotser te maak.

Ek is dankbaar vir die tydjie wat Jesus jou aan ons geleen het.

Sag rus, Daddy. Tot ons weer ontmoet.