’n Leser wat self ’n lugwaardin by die SAL was, sê die boek van ’n oudvlieënier, waarvan ’n uittreksel in Huisgenoot gepubliseer is ("Dis jou kaptein wat praat", 22 Julie), is die toonbeeld van swak smaak en deurspek met snert en mites. 

Ek was ses jaar lank ’n senior lugwaardin by die SAL. Ek het dus in die eersteklas-kajuit gewerk en baie kontak met stuurkajuitbemanning gehad aangesien ons span verantwoordelik was om hulle te “voer”. Ek lewer graag kommentaar op die artikel oor Robert Schapiro.


Met verwysing na die sogenaamde Mile High Club – as jy kon ruik hoe daai toilette ná ’n paar ure op ’n vlug met meer as 300 passasiers aan boord geruik het, en hoe groot die hokkies was, kan jy maar weet daar het nie so ’n klub bestaan nie. Ek het nooit iets soos sitplek-seks gesien of stories in dié verband gehoor nie. Dit is dus nonsens dat so iets gereeld gebeur het.

Daar was wel vlieëniers wat daarop aangedring het dat ons vir hulle in die middel van die nag roereier moes bedien – wat ons dan met groot moeite in die blaas-oonde moes probeer gaarmaak.



Kos was nog nooit op die vliegtuig “na smaak” gaargemaak nie, nie eens in die eersteklaskajuit nie, veral nie “braaiboud”, “eend”, en “wildsvleis” wat almal weet ure neem om gaar te maak nie. Daar is ’n groot verskil tussen iets verhit en iets kook. Daar was wel vlieëniers wat daarop aangedring het dat ons vir hulle in die middel van die nag roereier moes bedien – wat ons dan met groot moeite in die blaas-oonde moes probeer gaarmaak.

So ’n persoon het dikwels die bynaam "Tamagotchi" op ’n vlug gekry, want ’n mens moes hom elke 20 minute voer.

En nonsens, ons het nie “almal’ gemiddeld 10 kg aangesit toe ons begin vlieg het nie. Lugwaardinne was elke maand geweeg om seker te maak dat ons ’n gewig gehandhaaf wat 3 kg minder as die mediese norm was. Vlugkelners was uiters trots op hul voorkoms en vlieëniers was onderhewig aan streng mediese toetse.

As almal elke jaar 10 kg sou moes optel, sou die vliegtuie later nie meer kon opstyg nie! Kaviaar was nie beskikbaar vir bemanning nie. Net ’n beperkte hoeveelheid per vlug is uitgereik. Oorskiet was soms beskikbaar en daar was party vlieëniers (uitsondering tot die reël) wat soos bederfde kinders daarop aangedring het.

Die afsterwe van ’n passasier op ’n vlug was met die grootste respek hanteer (ek was self op so vlug).

Die vliegtuig was nie “geskut’ nie, daar was wel ’n vinnige besoek van ’n dokter wat moes vasstel dat die persoon nie weens ’n aansteeklike siekte gesterf het nie voor die ander passasiers toegelaat is om af te klim. 

Tydens heelwat noodgevalle was daar gewoonlik ’n dokter aan boord en hy of sy het toegang gehad tot ’n baie gespesialiseerde mediese tassie om sulke gevalle onmiddellik te kon behandel. Dis sommer nonsens dat daar ondersoek ingestel was of daar kastig ’n misdaad gepleeg was – soos party mense hulle op vlugte gedra het, was ’n mens soms lus om aksie te neem, maar ons opleiding het verseker dat ons baie professioneel opgetree het.

Ons was jonk en mooi en het regtig nie die belangstelling van getroude mans nodig gehad nie. En ons waardes het bepaal dat ons ook nie dié soort gedrag goedgekeur het nie.

Lugwaardinne het werklik geen begeerte, of strewe, gehad om getroude mans se “airline wives” te wees – nie een van ons het al ooit van so iets gehoor nie. Buite-egtelike verhoudings, soos almal weet, is nie beperk tot een beroep nie. Of dit nou ’n kantoorbraai, ’n oornagvlug of ’n personeelvergadering is, daar sal altyd ’n paar manne (getroud of ongetroud) wees wat hard probeer. 

Ons was jonk en mooi en het regtig nie die belangstelling van getroude mans nodig gehad nie. En ons waardes het bepaal dat ons ook nie dié soort gedrag goedgekeur het nie. Die norm was om as ’n groep bemanningslede saam uit te gaan in vreemde lande.

Sou dit nie voorbladnuus gewees het as daar op ’n vlug ’n opname gemaak is van waarheen passasiers wil vlieg en dan word die roete sommer op die plek verander nie?

Die artikel toon totale disrespek vir ’n wonderlike groep SAL-bemanning wat hard gewerk het om destyds die Lugdiens die trots van ons land te maak, en ons internasionale reputasie van goeie diens het gesorg dat die lugredery winsgewend was en het selfs die SAR&H op hul tone gehou. Hierdie tipe negatiewe kommentaar is onnodig net sodat die uitgewer ’n boek verkoop.

Ons verneem die vlieënier is reeds jare gelede oorlede en bevraagteken dat die boek nou skielik uitgereik word en op so ’n ongevraagde onsensitiewe manier bemark word. Waarom is daar nie liewer gefokus op sy passie vir vlieg nie? 

Ek gun geen familie so ’n nalatenskap van ’n geliefde nie.

– Gail

& Secrets from the Cockpit is nie ’n goedkoop boek oor opgemaakte seksstories nie, is Arlene se kommentaar. ”Dis ’n humoristiese boek met die ernstige boodskap van ’n jong man wat vele uitdagings oorkom het en sy droom om ’n vlieënier te word in geskiedkundige tye bewaarheid het.” Arlene voeg by sy het baie tyd daaraan bestee om seker te maak die feite van die gebeurtenisse wat in Secrets beskryf word, is korrek. Arlene het dit ook met ander beroepsvlieëniers bevestig. Sy voeg by: ”Soos Robert ook skryf, hy het nie probeer om enigeen te kritiseer nie; hy het net sy eie vliegstories en ervarings gedeel.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe