Ná 20 jaar gee my motortjie die gees. Verslae staan ek langs die pad.

“Tyd vir ’n nuwe een, Ouma,” is die raad van die wildvreemde jongeling wat stop. Sy eie motor is nog onder ’n driejaar-waarborg, maar lyk meer verrinneweer as myne.

’n Mens koop nie meer iets om op te pas en vir altyd te gebruik nie, moet ek hoor. Ek maak toe maar instemmende geluide, want ek is moedeloos en my ou lyf voel so gehawend soos my motortjie.

En ek is maar te diep dankbaar dat daar nog iemand is wat stilhou en jou nie met jou gebakte pere los nie. Toe ek hom bedank asof hy iemand baie besonders is, raak hy skoon verleë.

Daaraan is hy duidelik ook nie gewoond nie . . . Maar stilweg het ek gewonder: Van wanneer af kyk mense jou so skeef aan oor jou “ou” goed?

Ou goed moet skynbaar liefs sommer weggegooi en met nuwes vervang word . . . O, my swak hart.

Is dit hoekom ons riviere en see so vol plastiek en afval is?

– OUMA, VRYSTAAT