Twee jaar gelede het ’n sprokie waar geword vir Janine Smit en Lourens Kotze.

Lourens (29) kom van ’n klein boeregemeenskap in Namakwaland so 45 km van Garies af. Daar was maar min jong mense en ná ’n liefde wat nie uitgewerk het nie, het hy besluit om by Huisgenoot Pasmaats aan te sluit.

Janine Smit (28) is die bestuurder van ’n babawinkel en die jongste van twee pastoriedogters in die Paarl. Haar suster het haar ná ’n liefdesteleurstelling aangemoedig om by Pasmaats aan te sluit. Sy was natuurlik aan die begin effens skepties, want die stories oor ontmoetings aanlyn is nie altyd maanskyn en rose nie. Maar omdat sy met haar hele hart ’n oulike en eerlike man wou ontmoet, het sy tog aangesluit.

Soos die noodlot dit wou hê het Lourens se profielfoto sommer dadelik Janine se aandag getrek. Hy aanvaar toe haar uitnodiging en hulle ruil nommers uit om verder op WhatsApp te gesels.

Die tweetjies het lekker begin gesels en kort voor lank praat hulle land en sand. Lourens het geen selfoonontvangs op die plaas gehad nie en moes elke aand 3 km ry om die sein te kry. Hulle het elke aand van seweuur tot tienuur gesels, maak nie saak hoe die weer gelyk het nie.

Foto: Verskaf.

Lourens besluit toe hy moet vir Janine beter leer ken en durf die sowat 4 uur lange pad Paarl toe aan om haar en haar ouers te gaan ontmoet. 

Janine en Lourens het dadelik ’n vonk tussen hulle gevoel en haar ouers het ook baie van hom gehou.

Toe Janine daardie Desember haar jaarlikse vakansie neem, het sy plegtig vir Lourens by sy familie in Namakwaland gaan kuier. 

Een dag op hul vakansie by die see in April 2017 het Lourens vir Janine ’n rooi houtboksie met ’n rooi hartjie van hout gegee, wat hy self gemaak het. Hiermee het hy haar gevra om sy meisie te wees en of hy haar hart ook kan kry. Haar antwoord? "Ja."

Die vakansie het egter einde se kant toe gestaan en Janine is met ’n bus terug Paarl toe. Albei was ewe hartseer.

Foto: Verskaf.

Ondanks die lang afstand en baie verlang kon hulle die liefdesvure aan die brand hou. Agt maande ná die Desembervakansie wat sy vir hom kom kuier het, het die duifies verloof geraak.

Op 28 April vanjaar, agt maande ná die verlowing, is Lourens en Janine deur haar pa, past. Jannie Smit, in die AGS Paarl Protea Aanbiddingsentrum in die huwelik bevestig. Dit was vir Lourens die beste dag van sy lewe toe hy sy bruid by die kerk sien instap in ’n rok wat hy drie jaar tevore op ’n veiling gekoop het.

Lourens het die vintagerok raakgesien en op die ingewing van die oomblik dit gekoop. Lourens en Janine hou albei van outydse goed en toe hy haar die rok wys, was sy ook mal daaroor. Janine se swaer, die modeontwerper Stephan Martin, knap dit toe op en maak veranderinge volgens Janine se smaak. Sy het asemrowend gelyk.

Lourens en Janine is nou vier maande gelukkig getroud en wil vir Huisgenoot Pasmaats bedank.

Moet nooit opgee op liefde nie, iewers wag ’n pasmaat vir jou.