Ja, dit was ’n vrek moei­like besluit, en duur. Hier breek die verlange my, want ek is alleen met die kinders; Pappa kom eers oor twee dae huis toe. Net vir sewe dae, dan weer 14 dae weg vir werk

Ek worstel elke dag: Was dit die regte besluit? Maar kyk ek na my kinders, dan weet ek dit was. Daar is vir hulle hier ’n toekoms. En ons slaap veilig, al is dit steeds vir my vreemd sonder veiligheidshekke en tralies voor die vensters.

Dis ’n wonderwerk dat ons hoegenaamd hier is. Net nadat my man goedkeuring gekry het om in Australië te kan werk, is akute limfoblastiese leukemie in 2019 by ons seuntjie Keagan (5) gediagnoseer.

Sou ons nog kon gaan? Maar sy nuwe werkgewer het verstaan; hulle wag vir ons.

Een jaar later vlieg Pappa Australië toe, en toe kom covid-19, en ek en die kinders is in Suid-Afrika gestrand.
Eers 11 maande later, en ná seker 10 aansoeke om spesiale vergunning, kon ons ook oorvlieg.

Die kinders vra daagliks wanneer hulle weer vir Oupa en Ouma, of hierdie niggie, nefie of maatjie kan sien. Was dit nie vir WhatsApp-video’s nie, het ek al ’n vlot gebou en terug geroei.

Dis aaklig sonder my familie. Ek huil daagliks, veral wanneer ek Afrikaanse musiek luister. Dis maar hoe ek cope. Suid-Afrika bly diep in my hart en DNS. Ek sien so uit om te gaan kuier.

Maar al verlang ek hoe baie, bly ek dankbaar om hier te wees. Keagan kry behandeling en dis baie duur: Ons moet sowat 80% self betaal.

Maar ons sal dit maak.

DANÈ LAUBSCHER, Perth

Deel jou storie met ons