Al jou skuldeisers het alle inligting ontvang om dit te staaf, maar nogtans vat die bank elke liewe sent wat inkom – glo om hul koste te dek. Maar drie maande later stroom die dreigboodskappe steeds in: Ons gaan alles vat wat jy besit.

Nie dat daar iets oor is nie. Alles moontlik het jy reeds verkoop, want jou maag verstaan nie jy is afgelê en dat daar nie meer geld vir kos is nie.

Dan word jou rekening aan prokureurs oorhandig en laasgenoemde stuur SMS-boodskappe aan jou dat jy dié of daai dringend moet skakel om nog koste te vermy.

Hoor my, mens: Al het ek lugtyd gehad, was jy die laaste wat ek sou bel. Ek benodig daardie lugtyd om werk te soek. Skakel my gerus direk, ek het absoluut niks verkeerd gedoen nie en hoef dus nie weg te kruip of my kop in skaamte te laat sak nie.

Ek is net een van Suid Afrika se vele ongelukkiges wat sy werk verloor het en in die ouderdom van 55 jaar weer moet begin soek. Skielik moet ek ’n matrieksertifikaat hê om die werk te kan doen wat ek al 30 jaar lank gedoen het.

En met al die werk wat op die internet geadverteer word, is ’n mens nie seker of enigeen ooit werklik jou CV sien nie.

Bel jy, praat jy met onsigbares wat klaarblyklik nie omgee wat buite hul eie wêreld aangaan nie. Hulle wil net heerlik kla oor hul werksomstandighede.

My wêreld is op sy kop gedraai, maar ek vertrou dat ek met die Here se genade ook hierdeur sal kom.

Kallie, Phalaborwa