“Vir my het dit nooit gegaan oor waar ek moet begin soek nie. Nee, ek het grootgeword met die wete dat ek ’n aangenome kind is.

As kind het ek soms baie onseker gevoel, veral oor waar presies ek myself tussen my aangenome familie bevind. ’n Mens word egter groot en jy leer die lewe ken met elke uitdaging wat hy na jou kant toe gooi.

Steeds onseker en met ’n kop vol onbeantwoorde vrae het ek my tienerjare betree en ditsem! Rebellie het binne-in my losgebreek. Onverklaarde emosies het binne my begin wroeg. En dis in dié tyd van rebellie en wroeging dat ek begin wonder het oor my biologiese gesin – my ouers, broers en susters.

Soveel vrae het onbeantwoord gebly. Soms het ek gefrustreerd gevoel, want ook skuldig teenoor my aanneemouers oor die behoefte, en later selfs begeerte, om die onbekende te wil verken. 

Dan word jy 21, en dan mag jou biologiese ouers na jou begin soek. 

Skielik ontaard jare lange begeertes in vrese. ‘n Tipe benoudheid het my oorval . Vreesbevange oor wat die werklikheid kan inhou. Vir my was dit ‘n paar teleurstellings…

Toek se Soek Hoek het my tot by my biologiese pa gelei. En soos die noodlot dit wou hê was ek te laat – hy is drie maande tevore oorlede. Ek dink ek was verlig, maar vandag is ek effens spyt. Ek sou hom graag wou ontmoet. Dis duidelik hy het baie na my gesoek. 

Ons deel ook ‘n genetiese sindroom. Ek sou graag wou sien of ons dieselfde pad loop met die siekte. Twee weke later sê my ma: “Jou ma soek jou.” Ek is die ene hoendervleis.

Soveel emosies bars los in my gemoed. Eers die een skok en nou die volgende. 

Dis te veel vir nou, maar ek stem in vir ‘n ontmoeting. Dis immers my bloedma dié, maar ook ‘n totale vreemdeling. 

Ons het ‘n stormagtige en kortstondige verhouding gehad. So vinnig soos sy my opgegee het vir aanneming, so vinnig het sy weer besluit die verhouding is nie vir haar bevredigend nie. Net daar het ek besef ná twee keer se verwerping sal ek hierdie seer nie verder kan volhou nie. 

Tog so naby, maar steeds so ver.

Ek, wat self ‘n babadogtertjie op 20 weke-swangerskap verloor het, kon die gebaar nie verstaan nie. Ek sou my alles opgee om net ‘n paar minute van dié babakindjie te kon leen. My geluk het egter gedraai. Ek is vandag ‘n ma van twee uitsonderlike kinders. Ek sal my lewe vir hulle gee. 

Aanneming is die enigste uitweg vir party ma's en hul omstandighede. Dis ook vir etlike kinderlose pare ’n droom wat verwesenlik word; ’n behoefte wat vervul word.

Ek glo daar is aanneem verhale wat jou trane van vreugde gee maar dis nie almal beskore nie.

Ek kan die Hemelse Vader nie genoeg bedank vir die ouers wat hy vir my gegee het nie. Al deel ons nie bloed nie, deel ons ‘n leeftyd van herinnerings, liefde en hartsvrede. 

Dis hoe my lewe moes wees.

Hoewel ek nie die vreugde van versoening het met my biologiese ouers nie, het ek die vreugde van volmaakte heerlikheid.”