Potch se vratte-man
Petrus Albertse stoei al ses jaar lank teen ’n seldsame velsiekte. Foto: Huisgenoot/Cyril Blackburn

Selfs die koel blaredak van die hoë eike hier langs ’n bedrywige pad bied vandag geen lafenis teen die skroeiende son nie. 

Dis snikheet en windstil – selfs al is dit skaars vroegmiddag. Die kwik styg nou al dae lank bo 35°C.

“Ek lees uit Efesiërs,” sê die man met sy rug na die boomstomp gedraai. Die kleintoontjie aan sy regtervoet peul uit ’n gehawende tekkie.

“Hoor hier,” sê hy dan. Die naels aan sy hande is dik – amper soos stompe – en skerp. Hy wys met die een vinger na boaan die bladsy: Dis die 16de vers van hoofstuk ses in die boek Efesiërs en met blou pen uitgelig.

Sonder skroom of huiwer lees hy: “Dra onder alle omstandighede die skild van die geloof. Daarmee kan julle al die brandpyle blus wat die Bose afskiet. Gebruik God se verlossing as ’n helm om julle koppe te beskerm. En gebruik die swaard van die Gees, dit is God se woord.”

“Doen alles in gebed en smeking.”

Sy naam is Petrus Albertse ('n skuilnaam). Hy’t nog kind nog kraai. Maar hy’s famous hier op die hoek van Albert Luthuli- en Steve Bikolaan in Potchefstroom, terg hy. Ses jaar lank al. Duisende motors woerts elke dag hier verby hom – die meeste mense ken nie sy naam nie.

“Min mense kyk jou in die oë,” sê hy en druk sy "pocket Bible" – soos hy dit noem – terug in sy broeksak. 

Potch se vratte-man
Petrus sê hy lees elke dag Bybel – dís hoe hy hoop behou. Foto: Huisgenoot/Cyril Blackburn

Dis asof hulle bang is vir hom. Maar jy vra nie hoekom nie – jy wéét instinktief hoekom die meeste oë hom vermy. Petrus het ’n seldsame veltoestand bekend as porokeratose: Dit veroorsaak vratte, sommige groot en met ’n verhoogde rand, op die vel.

“Soos boombas,” sê hy en tuur na ’n lugspieëling van motors wat ver op die horison aangebewe kom. 

Hier in die son – en sonder die geld vir medikasie – het sy veltoestand ál meer vererger. Later was sy arms, sy bene en selfs sy gesig vol vratte. Sy hare het alles uitgeval; die vratte het gapende wonde aan sy bene gelaat.

“Ek kon amper nie beweeg nie,” sê Petrus. “Ek kon nie eens self my skoenveters vasmaak nie.” 

Die middagson hier langs ’n verkeersknoop skyn warm op die letsels aan sy arms en sy bene en sy gesig. Iemand toet vir hom en waai vinnig.

“Die merke lyk sleg, nè?” sêvra hy. Sy glimlag maak diep kepe om sy mondhoeke. “Maar die vratte het amper almal afgeval.” 

Hoe? 

“Onthou jy nie?” vra hy. “Die wapenrusting van God – dit wat ek netnou gelees het. Die swaard van die Gees. God se helm van beskerming.” 

Potch se vratte-man
Petrus Albertse. Foto: Huisgenoot/Cyril Blackburn
Potch se vratte-man
Petrus Albertse. Foto: Huisgenoot/Cyril Blackburn

Dan vra ek hardop: Hoe behou jy geloof wanneer jy deur koue winters en snikkende somers langs ’n besige pad om aalmoese vra? Waar is die wapenrusting om jou brose vel teen die son te beskerm?

“Wag,” sê hy. “Ek soek dit vir jou.” 

Sy skurwe hande blaai-blaai weer deur die Sakbybel. Sy oë soek-soek na die regte plek. 

“Het dit!” sê hy opgewonde. “Hebreërs. Dis hoofstuk 11.” 

Hy lees daaruit: “Om te glo is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” 

Sien jý nou, wil hy seker vra. Hy doen nie. 

“Seker so twee jaar terug – ek kan nie meer mooi onthou nie – het hier op ’n dag ’n dokter langs my stilgehou. Sy het my voorgestel aan ’n dermatoloog. Hulle het alles gedoen: toetse galore; monsters weggestuur. Die slimmies het gesukkel, laat ek jou dit sê. Toe kom die antwoord: porokeratose. Hulle het vir my medikasie gegee om dit te behandel. Ek is in ’n joernaal opgeneem, jy weet?” 

En toe val die vratte van sy liggaam af . . . 

“Die wapen – God se wapen. Dís tog hoe geloof werk. Wie anders het haar gestuur? En dis toe dat God vir my sê: Gaan en vertel vir mense wat Ek vir jou gedoen het.” 

Potch se vratte-man
Die vratte het gapende wonde aan Petrus se bene gelaat. Foto: Huisgenoot/Cyril Blackburn

Dís hoekom hy nog hier op die hoek van Albert Luthuli- en Steve Bikolaan staan, sê Petrus. Selfs op dae soos vandag. En selfs al reën dit môre. Nie omdat hy hoef nie – ’n dominee ontferm hom al jare lank oor hom. Daar is ’n dak oor sy kop, ’n gemaklike bed. Kos is skaars, maar hy leef.

“Ja,” sug hy. “Jy sien hoe hulle hier verbyry en jou aankyk omdat hulle dink jy is sleg – slegter as sleg. Hulle weet niks van die seer nie. Hulle weet nie dat niemand jou ’n job wil gee as jy lyk soos ek lyk nie. Hulle weet nie hoeveel aande lank jy onder ’n boom met ’n flou liggie Bybel gelees het om te probeer wakker bly omdat jy weet jy gaan weer beroof word wanneer jy slaap nie.

“Hulle weet niks nie. Maar dit maak my nie seer nie – nie meer nie. Ek is hier om te sê: Kyk, ek was ’n washout. Ek het niks beteken nie. Niemand sou omgee of ek leef of dood is nie. My eie foute het my op straat laat beland. Maar God het my genees. Hy het vir my ’n dak oor my kop gegee; Hy het my heelgemaak toe ek gedink het siekte gaan my lewe vat. Hy het my weer laat leef.” 

Hy grawe rond in sy broeksak, sukkel-sukkel toe iets daarin vassteek. Dan wys hy ’n klein houtkruisie van bamboes – los stukke hout wat hy hier in die strate optel – en hou dit na my toe uit.

“Hoeveel?” vra ek.

“Jesus het klaar die prys betaal,” sê hy. “Vir my en vir jou – vir ons almal.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe