Katharina Hecker (58), taksidermis, Pretoria

Dit kan enigiets van ’n paar weke tot ’n paar maande neem om ’n dier realisties voor te stel soos hy in die natuur gesien word. Jy moet seker maak elke snorbaard en maanhaar is perfek. Dit is verskrik­like fyn werk om elke detail van ’n dier vas te vang.

Ons maatstaf is die natuur. As jy die dier lewend in die natuur sien, word jy van voor af bewoë en besef dat jy ’n jagtrofee nooit so perfek sal kry nie. Maar dit is ’n wonderlike gevoel om terug te kan tree, na jou werk te kyk en te kan sê die stuk lyk amper lewendig.

Ek was al van kleintyd af blootgestel aan taksidermie en jag.

Dit was ’n goeie manier om steeds nou met die natuur te kon werk, want ek het nog altyd ’n groot liefde vir die bos en die natuur gehad.

Ek is in Tanzanië gebore. My pa het daar wildbewaarders opgelei. Ons het in die 1960’s met die onafhanklikwording van Tanzanië teruggetrek Duitsland toe van waar my ouers afkomstig is, maar ek was oud genoeg om te weet Duitsland is net tydelik. Ek moet terugkom Afrika toe.

My pa het in Duitsland vir die parkeraad gewerk, maar hy was ook ’n kranige jagter.

Ek wou eintlik ’n veearts geword het, maar my punte was nie goed genoeg nie. Taksidermie was die tweede opsie vir my. Dit was ’n goeie manier om steeds nou met die natuur te kon werk, want ek het nog altyd ’n groot liefde vir die bos en die natuur gehad.

Om ’n taksidermis te wees, moet jy ’n kunstige kant hê. Gelukkig was daar ’n kreatiewe streep in die familie. My oupa was ’n baie bekende kunstenaar in Duitsland wat kunswerke vir kerke gedoen het.

Ek het as jong vrou die eerste geleent­heid gekry om terug te kom Afrika toe toe Nico van Rooyen, ’n meestertaksidermis, ’n vakleerling gesoek het.

Dit is nie ’n vreemde werk vir vroue om te doen nie. Daar was voor my al baie vroue in die bedryf, en ek het vandag self ’n paar vroue wat vir my werk.

Destyds, toe ek die werk by Nico kry, het ek sak en pak Pretoria toe getrek. Ek het vir drie jaar onder Nico gewerk en baie geleer. Hy was ’n wonderlike leermeester en het uit sy pad gegaan om my touwys te maak.

Daar was in daardie tyd nog nie ’n skool waar jy taksidermie kon gaan studeer het nie, maar Nico het in Amerika gaan kyk hoe word dit gedoen en het dit self in sy praktyk toegepas.

Ná die drie jaar het ek by die ou Transvaalse Natuurmuseum gaan werk. In daardie jare het die museum sy eie ­wetenskaplikes gehad wat enigiets van insekte, voëls, roofdiere en groot soogdiere nagevors het.

Ek was vir agt jaar ’n taksidermis daar en het verskeie diere opgestop.

Ek het my lewensmaat by die mu­seum ontmoet. Ons het besluit om vir twee jaar ons eie besigheid te begin.

In 1994 wou Nico, my leermeester, sy besigheid verkoop en ons het genoeg geld gehad om dit oor te koop.

Ons het die naam gehou. Nico van Rooyen Taksidermie. Dit was ’n naam wat reeds baie gewig in die industrie gehad het en was klaar baie gewild by die oorsese mark.

Ek het onder hierdie dak saam met hom begin en ek is nog al die jare hier. Ons het ’n groot span van sowat 25 mense wat hier werk. Dit is ’n groot voorreg om te kan doen waarvoor jy lief is, en elke stuk gee vir my satisfaksie.

Ons het onlangs ’n groot olifant gedoen wat na ’n museum in China gegaan het. As ’n taksidermis werk jy aan ’n groot verskeidenheid diere, maar vir baie is daar ’n sekere dier waarin hy spesialiseer of wat hom bekoor, soos ’n krokodil, roofdiere of groot bokke soos elande en koedoes.

Ek kan egter nie vir jou sê watter stuk staan vir my uit nie. Elke trofee waaraan ek al gewerk het, gee vir my groot genot. Om met my hande te kan werk en die eindproduk te sien . . . Daar is geen woord wat dit kan beskryf nie.

Baie mense is verwonder deur die werk wanneer hulle hul trofees kry. Vir hulle lyk die dier net soos toe hulle hom in die natuur gesien het. En dit is wat jy wil hê.

Elke dier het ook sy uitdagings. ’n Olifant is dalk die moeilikste vanweë sy grootte.

Mense besef nie die groot waarde wat die jagbedryf vir die ekonomie inhou nie.

Dit is ook moeilik om te bepaal aan hoeveel stukke ek al in my lewe gewerk het. Daar is baie. Oorsese jagters kom nie om net een dier te skiet nie. Hulle kom vir 10 dae of meer en kan enigiets van vyf tot 10 diere bring wat opgestop moet word. Jy kry ook trofeeversamelaars wat aan ’n groot versameling werk en wat talle diere hier aanbring.

Ek jag self en het ’n paar van my eie trofees in my huis. Ek dink die trofee waarop ek die trotsste is, is die dwergbokkie wat ek geskiet het. Dit is die kleinste bok in Afrika en was baie uitdagend om te stop.

Katharina Hecker by haar leermeester, Nico van Roo
Katharina Hecker by haar leermeester, Nico van Rooyen. Sy het alles wat sy van taksidermie weet by hom geleer. Foto verskaf


Mense besef nie die groot waarde wat die jagbedryf vir die ekonomie inhou nie. Ek moet baiekeer vir mense wat nie jag nie verduidelik hoekom die bedryf belangrik is. Dit is moeilik om vir mense te verduidelik wat in die stad woon. Dit is ’n lewensaar vir bewaring.

Weens ’n jagter se passie spandeer hy baie tyd in die natuur en verstaan hy hoe die siklus van die lewe werk.

Jag word baiekeer as onmenslik beskryf, as net nog ’n manier om die laaste bietjie van die natuur uit te wis, maar dit is nie die geval nie. As jag eties gedoen word, kan dit baie voordele vir bewaring en die natuur inhou. Die geld wat uit jag gegenereer word, word teruggeploeg in die gemeenskap om skole en klinieke te bou.

Wat mense nie besef nie, is taksidermie was en is nog steeds ’n goeie manier om mense op te voed. Dit is ’n manier om mense wat nie die geleentheid het om die dier in die natuur te sien nie die kans te gee om te sien hoe hy lyk en voel.

Dit verg baie moeite om ’n dier so realisties as moontlik voor te stel. Ek doen self ook beeldhouwerk. Ek het nou ’n bronsbeeld gedoen van ’n ietermagog. Dit is die dier waarmee daar die meeste in die wêreld onwettig handel gedryf word.

My stuk gaan opgeveil word en die fondse gaan vir ’n organisasie in Tanzanië wat homself beywer vir die bewaring van dié pragtige diere.

Op die einde van die dag, of jy nou diere opstop of ’n bronsbeeld maak, kan jy nie Moeder Natuur probeer na-aap nie. Maak nie saak hoe kunstig en talentvol jy is nie. Niks kom naby die ware Jakob nie.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.