Ek het Leo se storie oor die meisie wat hy deur sy vingers laat glip het met soveel hartseer en begrip gelees.

My storie is soortgelyk aan syne.

Ek was in 1974 in matriek en het destyds met die wonderlikste ou uitgegaan. Hy was altyd sorgsaam, het altyd gelag en almal in ag geneem.

My ma het nog vir my gesê dié ou is ware troumateriaal. Ongelukkig was ek nog te jonk om te besef watter juweel ek gehad het.

Hy was in die weermag en moes grensdiens doen. Ek het toe besluit ek kan nie net heeltyd vir hom sit en wag om terug te keer nie.

Dus, toe hy weer met weermagverlof van die grens kom, het ek met hom uitgemaak. Ek wou die lewe geniet en ander vriende ontmoet. So het ek toe my huidige man raakgeloop en smoorverlief op hom geraak.

'Ek kan sien hoe gelukkig hulle as gesin is, met ’n eindelose vriendekring wat hul lewe verryk.'

Twee jaar later is ons getroud en eers ná ons troue het sy ware kleure na vore gekom.

Altesaam 42 jaar lank moes ek kwaai emosionele mishandeling deurmaak, maar ek het vasgebyt ter wille van my drie kinders.

Hulle is nou al almal uit die huis, maar die tyd het vir my uitgeloop en nou moet ek maar tot die einde deurdruk.

Ek kyk na my kêrel van destyds se lewe saam met sy vrou en kinders op hul Facebook-blad.

Ek kan sien hoe gelukkig hulle as gesin is, met ’n eindelose vriendekring wat hul lewe verryk.

Dit breek my hart om te weet dit kon dalk ek saam met hom gewees het.

Het ek maar toe geweet wat ek gehad het, sou ek aan hom vasgeklou het om lewe en dood.

Maar ongelukkig het die tyd aangestap en moet ek met my keuses saamleef.

Gebroke hart, Pretoria

Skryf aan ons
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.