Tog glo Riana van Mourik (36) van Villieria in Pretoria as sy dit kon regkry, kan enigiemand anders ook.

“Ek het een oggend opgestaan en vir myself in die spieël gekyk en gedink ek is moeg om so oor myself te dink en voel,” vertel Riana aan Huisgenoot. Sy het sowat ’n jaar en ’n half gelede nog die skaal se naald tot by 158,7 kg getrek.

Foto: Verskaf.

As jy oorgewig is, moet jy altyd die mense wat in die hoekie staan en skinder en vir jou lag verdra, sê Riana, wat nou slegs 94 kg weeg.

“Hulle sê vir jou hoe dik en vet jy lyk. Dis oorweldigend as daardie einste mense jou nou nie herken nie.”

Hoewel sy die besluit gemaak het om iets aan haar gewig te doen, bieg sy dat sy aan die begin steeds gesloer het. Dit was nie voor een van haar vriendinne haar herhaaldelik gevra het om by ’n fiksheid-bootcamp aan te sluit, dat dinge begin verander het nie.

Riana en haar gesin. Foto: Verskaf.

“Daar was steeds oggende wat ek opgestaan het en gehuil het, want ek wou nie meer oefen nie. My man het my dan veral bygestaan en gemotiveer met sy bemoedigende woorde.”

Riana is steeds deel van Epic Outdoor Fitness, waar sy die fiksheidinstruktrise Izelle Brits ontmoet het en sy oefen nog elke dag tussen ’n uur en ’n uur en ’n half. “Ek moet tyd maak vir oefen,” bieg sy, “anders het ek altyd ’n verskoning om nie te gaan oefen nie.”

Izelle Brits is waarlik 'n groot inspirasie vir Riana. "Haar passie en toewyding waarmee sy haar klasse aanbied en mens help, maak haar baie spesiaal," vertel sy.

Dit is nie ’n maklike pad om te stap nie, maar die vroue wat vir haar vertel dat sy vir hulle ’n inspirasie is, maak dit die moeite werd. 

Haar drie kinders is ook ongelooflik trots op haar. “Hulle vertel vir almal hoe maer mamma geword het.

Foto: Verskaf.

“Ek is die tipe mens wat nooit iets enduit volhou nie. Ek het altyd begin met die een of ander pilletjie of dieet, maar dan later opgehou,” vertel Riana. “As jy jou kop regkry, die besluit maak en ’n goeie ondersteuningsnetwerk het, kan jy werklik so ’n groot leefstylverandering doen.”