Twee jaar gelede hierdie tyd, onthou ek, het ons nog desperaat gewag op reën met die damme wat ál leër word en Dag Zero wat ál nader kruip. Dit voel so ver; byna vergete.

Die jaar het verbygeblits; toe nog een. En nou is dit byna Junie van 2020. Die jaar is al byna by sy halfpadmerk en almal in hierdie land is bekommerd, besorg en gespanne.

Oor die stil skerpskutter van COVID-19, maar ook oor die landskap wat sal agterbly ná die oorlog teen ’n onsigbare virus. Alles het so vinnig verander, dink ek.

In ’n oogwink, eintlik. Ons wag op vlak 3, vlak 2, vlak 1 van die inperking en droom van ’n tyd anderkant die pandemie. Maar hoe sal die land en die wêreld dan lyk?

En hoe sal die toekoms lyk? My seuns – deesdae gaande oor dinosourusse – vertel my van die aarde voor mense.

“Hoe verander die wêreld, Mamma?” “Stadig,” onthou ek daardie ou refrein, “en dan skielik.”

En dan is dit byna onmoontlik om te dink dit was ooit anders, en selfs meer onmoontlik om nie tog maar weer vorentoe te kyk nie.

– Yvonne

Kontak ons
  • Kontak my by redakteur@huisgenoot.com
  • Huisgenoot onderskryf die Suid-Afrikaanse Perskode wat ons verbind tot joernalistiek wat waar, akkuraat, regverdig en gebalanseerd is.
  • As jy meen ons kom nie die kode na nie, kontak die Persombudsman by 011-484-3618 of pressombudsman@ombudsman.org.za
  • Het jy nuusvoorstelle? Stuur e-pos na awessels@media24.com of bel 021-406-3309 met voorstelle vir artikels.