Nie voluit gelewe nie, want wat sou dit dan tog nou beteken? Nee, net geléwe.

Met ander woorde, jy het al die emosies ervaar wat ’n mens in ’n leeftyd kán ervaar – die goeies, en die slegtes.

Vreugde, verliefdheid, frustrasie, woede, verdriet, vrees, spanning, verligting, jaloesie, onsekerheid, dankbaarheid – die hele spektrum van gevoelens, te veel om hier op te noem.

As jy een van hierdie gevoelens nooit ervaar het nie, so sê my vriend Fanie, het jy nie die lewe in al sy skakerings beleef nie. Dan, sê hy, het jy iets misgeloop wat ’n mens moes beleef.

Kort voor saktyd lees ek toe ook ’n artikel oor die Griekse filosoof Seneca. Hy het geglo dit help nie om teëspoed te vrees nie, want dit is onvermydelik dat dit jou op die een of ander manier sal tref.

Aanvaar dit, het hy vertel, dan sal jy minder beangs daaroor voel. Dit is deel van die lewe.

Toe ek ons onderhoud met Jo Black (bl. 8) lees, het dit my getref hoe vreeslik dit is dat hy nou gekonfronteer word met ’n uitdaging wat hom die dinge kan ontneem waarvoor hy so lank gewerk het.

Hy is báng, erken Jo. En toe dink ek aan my vriend Fanie en aan Seneca se woorde en besef: Soms is ons bang, almal van ons. Ook dít is deel van hierdie reis.