Hierdie week skryf ons oor die akteur en aanbieder Pietie Beyers, tans te sien in Binnelanders en binnekort weer in die vasvraprogram Blitsbrein.

Hy is, toevallig, my broer – agt jaar jonger as ek, maar een van my naaste mense.

Huisgenoot skryf vandeesweek oor Pietie nes ons elke week van plaaslike akteurs vertel, maar dis nie hoekom ek hier oor hom skryf nie. Ek skryf oor hom omdat ek trots is op hom – nie oor die dinge wat hy doen nie, maar omdat hy nie die dinge probeer wegsteek wat ’n mens dalk sou wou verswyg nie.

Pietie het obsessief-kompulsiewe steuring, iets wat al vir hom baie swaarkry veroorsaak het. Soos derduisende ander mense oor die wêreld heen moes hy al spartel met ’n psigiese steuring, een van die siektes van ons tyd.

Ek is trots op hom omdat hy nie skaam is om te praat oor iets waarvoor ’n mens nie skaam hoef te wees nie, en omdat hy hulp gesoek het toe dit nodig was.

Hoekom skryf ek hieroor? Omdat ek glo baie van ons, of ons kinders of naastes, dra swaar aan die dinge wat nie aldag maklik gesê word nie.

En omdat ek dink dit is nodig om dan te sê: Ek is lief vir jou; ek is trots op jou – nie nes jy is nie, maar omdat jy is wie jy is.

Nie een van ons hoef weg te steek hoe ons – of ons geliefdes – bedraad is nie.