Toe ek in 2007 as jong joernalis by Huisgenoot begin werk het, het ek so liggies geskrik wanneer hy op sakdag van hom laat hoor het.

Effe streng, maar altyd hoflik sou hy my aanmaan omdat die onderskrifte vir my storie laat was of ek nog nie die laaste ontbrekende inligting vir ’n storie gestuur het nie.

Hy sou ’n e-pos stuur eerder as om te bel en onnodige geselsies te maak – ons Burgert, altyd stil-stil gefokus op die dinge wat gedoen moet word.

Toe ek Huisgenoot se redakteur word, het Burgert vir my ’n rots in ’n soms rowwe see geword.

Dit maak nie saak hoeveel druk daar op sakdag was nie, hy was altyd kalm.

Stap jy in sy kantoor in, tik-tik hy met sy pen teen sy mond, maak ’n merkie op die blad om hom later te herinner waar hy laas gelees het en luister nadenkend na die omvang van die uitdaging wat opgeduik het.

Onversteurbaar het hy daarna voortgegaan met die finale redigering van stories.

Hy was die een wat ons proewe finaal afteken voor ons tydskrif fabriek toe gaan – die laaste oë wat kyk dat als reg is.

Maar ook vir my en vir vele van ons ’n klankbord en redaksionele rigtingwyser.

Die een wat kon perspektief gee: Alles gaan oukei wees.

Burgert tree einde vandeesmaand af nadat hy jare van sy lewe en baie van sy liefde aan dié tydskrif gegee het.

Maar vir geslagte van ons sal hy altyd in ons herinnerings hier iewers op die vloer wees.

Met sy hoë standaarde, onverbeterlike taalkennis en droë laggie was hy een van Huisgenoot se reuse.

Kontak ons
  • Kontak my by redakteur@huisgenoot.com.
  • Huisgenoot onderskryf die Suid-Afrikaanse Perskode wat ons verbind tot joernalistiek wat waar, akkuraat, regverdig en gebalanseerd is.
  • As jy meen ons kom nie die kode na nie, kontak die Persombudsman by 011-484-3618 of pressombudsman@ombudsman.org.za.
  • Het jy nuusvoorstelle? Stuur e-pos na awessels@media24.com of bel 021-406-3309 met voorstelle vir artikels. 
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!