Ek onthou hoe dit my getref het toe ek dit die eerste keer laatnag in ’n beknopte koshuiskamer op Stellenbosch gelees het.

Wanneer ek daarna iets sou ervaar waarvoor ek nie woorde het nie, het ek aan daardie beskrywing gedink.

As ek van dinge probeer sin maak, dink ek ook dikwels daaraan: Daar is gevoelens wat ek nie ken nie.

Om te probeer verstaan beteken soms jy aanvaar jy sal nooit regtig verstaan nie.

’n Ander boek deur Elsa Joubert, Ons Wag op die Kaptein, speel in Angola af.

Dis in 1963 uitgegee; dus voor die oorlog in ons buurland. Maar toe ek my kollega Deon Lamprecht se storie oor sy herbesoek aan Angola lees, het die woorde oor Elsa se Poppie-karakter weer in my kop kom draai.

Tussen al die baie woorde waarmee ons die verlede en sy impak op die hede probeer verstaan, is baie gevoelens wat ons nie noodwendig ken nie.

Ons kan lees en luister en probeer verstaan. En dan ook ruimte laat vir die dinge waarvoor daar nie woorde kan wees nie.