Weg van haar huis, weg van die stad waar sy haar loopbaan gebou het, weg van die kameras en televisiewerk.

“ ’n Mens word vasgevang in die malende kolk van die lewe,” vertel sy oor daardie tyd. “En dis seker hoe dit moet wees, ten minste vir ’n tyd lank. Jy ry die een golf ná die ander. Jou lewe is ’n hoëspoedjaagtog, ’n aanhoudende een. Jy ignoreer die slae van die lewe en die konstante moegheid. Dan tref dit jou wanneer jy dit die minste verwag: Jy kan nie meer nie.”

En toe besluit sy: Dis genoeg. Sy verkoop haar besittings en trek sak en pak na Knysna, waar sy haarself weer gaan vind het. Kaalvoet op die strand en onder die blaredak van die woude. Daar kon sy net wéés – sonder druk en sonder verwagtinge.

Dit was nie nét maklik nie: Sy is in daardie tyd gekonfronteer met die gesondheidstryd van ’n geliefde en haar eie “donkerte”, soos sy dit beskryf. En tog was die respyt genesend.

“Die lewe was weer groter as ek.”

Dit tref my toe so met die lees van haar storie dat ’n mens dínk jou lewe is op een pad en dat jy moet hou by daardie pad, maar dat daar eintlik baie afdraaipaaie is wat ’n mens mag neem – en soms móét neem.

Dalk is dit alles kringe in ’n bos, maar daar is nooit net een paadjie deur die woud nie.

– Yvonne

  • Huisgenoot onderskryf die Suid-Afrikaanse Perskode wat ons verbind tot joernalistiek wat akkuraat, regverdig en gebalanseerd is. 
  • Het jy nuusvoorstelle? Stuur e-pos na awessels@media24.com of bel 021-406-3309 met voorstelle vir artikels.