Aanvanklik was my seuns traag oor dié gedwonge uitstappie. Hulle wil eerder by die huis bly en sê hul gunstelingding is “om te speel” – nie hierdie gesukkel teen die bulte uit nie.

Maar namate die weke verbygaan, stap ons ál verder en raak dinge ál interessanter.

Ons sien voëls en kyk na die verskillende soorte bome en plante en blomme en wonder wat in die huise van ons buurt aangaan.

Wie woon in daardie spokerige huis; hoekom staan hierdie hekkie altyd oop; hoekom het daardie mense besluit om hul muur helderblou te verf? Hoeveel keer per dag blaf die groot swart hond in die verwaarloosde erf; het die mense wat die plakkaat oor hul vermiste kat opgeplak het hom al teruggekry?

Terwyl ons so stap, praat my kleintjie onophoudelik van agter sy masker. Sy ouer boetie klim in elke boom met takke wat hy kan bykom.

My gedagtes – ’n deurmekaarspul ná die dag se dinge en gedink – kry weer vorm en vind hul regte plek in my kop.

Naweke gaan stap ons ver ente in die berg – verder en verder tot ons versigtige klimmers begin word.

Op ’n dag kyk ons uit oor Kaapstad wat uitgestrek onder ons lê. Skoon stil en verwonderd oor die skoonheid van die uitsig.

Die inperking het ons wêreld klein gemaak, maar sowaar: Daar strek die lewe steeds tot anderkant die horison. 

Yvonne

  • Kontak my by redakteur@huisgenoot.com
  • Huisgenoot onderskryf die Suid-Afrikaanse Perskode wat ons verbind tot joernalistiek wat waar, akkuraat, regverdig en gebalanseerd is.
  • As jy meen ons kom nie die kode na nie, kontak die Persombudsman by 011-484-3618 of pressombudsman@ombudsman.org.za
  • Het jy nuusvoorstelle? Stuur e-pos na awessels@media24.com of bel 021-406-3309 met voorstelle vir artikels.