’n Chromalin is ’n spesiale kleurafdruk op glanspapier, en ons het dit gebruik om eers te kyk of al die kleure en foto’s op die voorblad reg vertoon voor ons dit “in die bed sit”, “pos” of “afstuur”, soos ons dit noem.

Dit was élke keer spesiaal om te sien hoe alles bymekaarkom, en ek sou telkens ná die laaste kykslag die “chrom” teen my kantoormuur opplak – netjies in gelid, elke voorblad langs, bo of onder die vorige weke s’n.

Met die verloop van tyd het die mure van my kantoor vol geraak en daar was later nêrens ’n oop gaatjie oor nie. Dit het my vreugde gegee om te sit in dié Huisgenoot-holte met sy voorbladbont mure wat soveel stories vertel.

Dit was ’n toeganklike argief wat dit maklik gemaak het om terug te kyk na vorige uitgawes, maar ook ’n tasbare herinnering aan dit waarin ons soveel tyd en liefde stort – en ’n soort visuele manifestasie van die verloop van tyd. My kantoor het ’n soort genadige geheue geword – ’n ruimte wat perspektief op die kom en gaan van dinge bied.

Tydens verlede jaar se inperking moes ons Huisgenoot se geliefde kantoor op die sewende verdieping inderhaas oppak om as redaksie na ’n ander verdieping te trek.

Ek het die “chroms” van die mure afgehaal, dit in ’n boks gesit, en soos die res van my span lank tuis gewerk. Eers onlangs, toe ek my nuwe kantoor inrig, het ek dit weer uitgepak. En . . . hoe beskryf ek dit? Dit was soos om te kyk na die album van jou mense – die mooi oomblikke, die nuanses wat intrige en hartseer verklap, die snaakse gebeure wat jou wéér laat lag, die kinkels wat uitspeel op maniere wat niemand sou sien kom nie.

Ek het die “chroms” gebêre en sal dit altyd hou. “Die hart is ’n suigpomp-­begraafplaas,” het Breyten Breytenbach geskryf, maar in die hart van Huisgenoot is niks ooit heeltemal vergete nie.

Yvonne

redakteur@huisgenoot.com

Het jy 'n nuuswenk?
  • Stuur nuusvoorstelle na nuus@huisgenoot.com of bel 021-406-3309 met voorstelle vir artikels.
  • Huisgenoot onderskryf die Suid-Afrikaanse Perskode wat ons verbind tot joernalistiek wat waar, akkuraat, regverdig en gebalanseerd is. As jy meen ons kom nie die kode na nie, kontak die Persombudsman by 011-484-3618 of
    pressombudsman@ombudsman.org.za