Hy is al ’n bietjie blind, ’n bietjie doof, en nie meer besonder rats nie. Ek moes hom – soos elke dag – help om op die stoel te klim omdat die ou bene nie meer hulle ding wil doen nie.

Hy sug soms in sy slaap en het geset geword in sy later jare. Die streke van sy jeug het verdwyn, ook die knorrigheid van sy middeljare.

Hy is deesdae ’n ­liewe, lomperige pantoffel wat net ’n paar diep blawwe gee wanneer ’n voël by die huis invlieg of iemand by die voordeur opdaag. Van die bure se kat in die agtertuin wis hy niks, ook nie van die veldmuis wat soms oor die stoep skarrel nie.   

Sy tweelingsuster, Niggie, het meer – hoe sal ek dit stel? – knaend oud geword. Sy is grys om haar slape, maar nog vaartbelyn en fiks genoeg om enige broodjie uit enige hand te gaps en om met een sprong ’n stukkie vleis van ­iemand se bord af te duik.

Haar ganse bestaan wentel deesdae om die soektog na die volgende snack.

Toe ek kyk na die foto’s van bekendes en hul geliefde diere, het my gedagtes teruggekeer na die reënerige dag in 2008 toe ek my honde in Secunda gaan haal het. Hulle lyfies was klein en hulle ore lank. “Good luck, bassets are notoriously untrainable,” het die afrigter by die hondeskool gesê toe ek hulle daarna vir klasse neem.

Sy was reg: Hulle het nooit leer sit nie, ook nie leer luister nie, en allermins leer soet wees.

Hulle het gesorg dat geen mens my huis ooit as “netjies” sal beskryf nie, maar ons het deur die jare baie gelag vir hulle geite en gewoontes, en so lief geword vir die eksentrieke karakters wat als kom omkrap het.

Terwyl die ou oom so langs my sug, dink ek: Hierdie is die huis waar Neels en Niggie woon. Nes die res van ons het hy al die dinge van hierdie lappie aarde syne kom maak.

Yvonne

redakteur@huisgenoot.com

Het jy 'n nuuswenk?
  • Stuur nuusvoorstelle na nuus@huisgenoot.com of bel 021-406-3309 met voorstelle vir artikels.

  • Huisgenoot onderskryf die Suid-Afrikaanse Perskode wat ons verbind tot joernalistiek wat waar, akkuraat, regverdig en gebalanseerd is. As jy meen ons kom nie die kode na nie, kontak die Persombudsman by 011-484-3618 of
    pressombudsman@ombudsman.org.za