Ek gaan maak my oudste seuntjie wakker, dra hom buitentoe en sê: “Kyk, liefie, kyk die maan. Dis die enigste keer in ons lewe dat ons so ’n lang verduistering sal sien.”

Hy sê: “Dis koud, mamma,” en ek dra hom terug bed toe.

Onder die wolklose naglug kyk ek en my man hoe die aarde se skaduwee ál verder oor die maan skuif. Dit raak rooibruin; ’n driedimensionele bal van klip en stof.

Daar in die donker wonder ek wat die mense van duisende jare gelede gedink het toe húlle gekyk het hoe ’n skadu die maan insluk; wat geflits het deur die gedagtes van die mens wat eerste gedink het: Sê nou ’n mens kan eendag op die maan stap? En ek dink: Om te dink ons hét.

Later, met die nag op sy donkerste, speel ek Frank Sinatra se Moon River en wag dat daardie eerste snytjie wit weer teen die maan verskyn.

Die volgende dag wys ek vir my seuntjies my vae foto’s van die dowwe bruin maan en speel vir hulle Moon River.

“Speel dit weer, mamma,” sê die kleintjie, en ek laai ’n hele album van Frank Sinatra op my foon af.

Met skemer daardie aand speel ek dié liedjies weer, dieselfde musiek waarna my oupa Gert so graag in die vyftigerjare geluister het.

En onder nog ’n wolklose hemel word dit aand terwyl ons soek na die maan, en die aarde bly draai, en draai, en draai.