Die ekonomiese impak van die inperking het verdere verwoesting kom saai in gemeenskappe waar werkloosheid al voor die pandemie wydverspreid was, sê samaritane wat in dié provinsie verligting probeer bring.

Dit volg op jare van voortslepende droogte en ’n magdom ander diepgewortelde probleme wat die lewe vir baie gewone mense ’n nimmereindigende stryd om oorlewing maak.

Gaan saam met Imtiaz Sooliman se organisasie, Gift of the Givers, wanneer hulle weer daar hulpverlening doen, vra ek ons joernalis Pieter van Zyl toe. Skryf oor wat jy sien. Want Imtiaz sê dit is die grootste nood wat hy al in die land aanskou het sedert hy sy organisasie byna drie dekades gelede begin het.

Terwyl Pieter saam met die mense met die groot harte reis, stuur hy vir my ’n foto van twee kinders wat met hul plastiekbakkies aangehardloop kom toe die vragmotor op hul ­dorpie aankom. Weer ruk dit my – dis kinders.

Met sy terugkeer skryf Pieter in sy storie van die refrein wat telkens opklink: Help, ons het niks. Soveel swaarkry; soveel nood.

Lees sy vertelling in die Huisgenoot van 15 Oktober 2020. Dit is ontstellende leesstof, en daar is nie eenvoudige antwoorde nie. Maar ons kan nie wegkyk wanneer ons gekonfronteer word met die werklikheid wat om ons afspeel nie – en as ons getuies is van iets wat nie geïgnoreer mag word nie, sal daar dalk eindelik ingryping of oplossings kom.

Yvonne
redakteur@huisgenoot.com

 
Het jy nuusvoorstelle?
  • Stuur e-pos na awessels@media24.com of bel 021-406-3309 met voorstelle vir artikels.
  • Huisgenoot onderskryf die Suid-Afrikaanse Perskode wat ons verbind tot joernalistiek wat waar, akkuraat, regverdig en gebalanseerd is. As jy meen ons kom nie die kode na nie, kontak die Persombudsman by 011-484-3618 of
    pressombudsman@ombudsman.org.za.