Hulle sit styf onder my vlerk terwyl ons die asemrowende onderwaterwêreld op die skerm verken.

My kleintjie jubel toe die seekat se poot teruggroei nadat ’n pajamahaai dit afgebyt het en my oudste fluister: “Hoe lank kan ’n seekat lewe? Ek wil nie hê dit moet ophou nie . . .”

Terwyl ons kyk, dink ek terug aan die seekat wat ek as kind in ’n poeletjie by die see gevang het.

Sy lyf was sag in my hand; sy suiers klewerig om my voorarm. Dan onthou ek die ander ontdekkings van daardie lang dae by die see: anemone wat hul tentakels sag om jou vinger toevou; silwer harders wat in ’n skool verbyflits; oestervreters wat hul gespikkelde eiers op die rotse lê en jou histeries probeer weglok as jy dae later te naby aan hul uitgebroeide grys kuikens kom.

Stoffies, het ons daardie babavoëltjies genoem.

Vroeër die dag het ek en my ma toevallig gepraat oor die “homing instinct” van sommige diere – die drang en vermoë om terug te keer na die plek waar hulle vandaan kom sodat nuwe lewe dáár gebore sal word.

My hart skiet toe sommer vol terwyl ons so kyk na die dokkie oor ’n ander man se seekat. Want ons herinnering eis ook ’n soort “homing instinct”, die roete wat ons terugneem na die plek waar ons vandaan kom; daardie plek wat ons nie kan vergeet nie al probeer die jare ons soms op ’n dwaalspoor na ander dinge wegdra.

Yvonne

Kontak ons
  • Huisgenoot onderskryf die Suid-Afrikaanse Perskode wat ons verbind tot joernalistiek wat akkuraat, regverdig en gebalanseerd is. 
  • Het jy nuusvoorstelle? Stuur e-pos na awessels@media24.com of bel 021-406-3309 met voorstelle vir artikels.