Die verhaal begin met haar familie se laaste dae in Pole en eindig (soortvan) met hul vestiging in Kaapstad.

Wat die boek uitsonderlik maak, is die skrywer se insluiting van die swart-wit foto’s wat haar oupa van sy familie en hul naastes geneem het – en die manier waarop sy sekere besonderhede op die foto’s beklemtoon.

Sy skryf oor die dinge wat die foto’s verklap as jy dit van nader beskou, en oor die dinge wat dit nié vertel nie.

Oor die besonderhede op die agtergrond, die trek om ’n mond, die geheime versteek in ’n liggaams­houding. Tussendeur haal sy aan uit haar oupa se dagboek – hartverskeurend in sy aandag aan gewone dinge terwyl die groot gebeure van die geskiedenis sy familie om die aarde laat trek.

’n Mens is pal bewus van die man agter die kamera: die een buite die raam; die een wie se lewe – sy bestaan – ook verewig is deur die foto’s, al ver­skyn hy meestal nie daarop nie. Ook hy is alomteenwoordig in dié boek met die betekenisvolle naam Everyone Is Present.

Ek begin met ander oë kyk na die foto’s in ons familiealbums – verby die glimlagte, verby die prentjies van spesiale tye. En ek voel ontroer deur my eie familie se geskiedenis – die dinge wat oorvertel word, en die dinge wat soms verswyg word.

Laat weet my as jy iewers ’n ou familiefoto het waaragter ’n merkwaardige verhaal oor jou mense skuil. Ek sal dit graag wil lees.

Skryf aan ons
  • Huisgenoot onderskryf die Suid-Afrikaanse Perskode wat ons verbind tot joernalistiek wat akkuraat, regverdig en gebalanseerd is. 
  • Het jy nuusvoorstelle? Stuur e-pos na awessels@media24.com of bel 021-406-3309 met voorstelle vir artikels.