Almal van ons ken teen hierdie tyd iemand, of ’n paar mense, wat covid-19 onder lede het. Baie van ons ken iemand wat gesterf het nadat hulle positief getoets het vir die virus.

Almal van ons ken iemand, of ’n paar mense, wat hul inkomste weens die inperking kwyt is.

Die swaarkry kring uit; niemand bly onaangeraak nie.   

In ’n oomblik toe dit alles my diep terneergedruk laat voel, doen ek ’n vreemde ding. Ek gaan, van alle dinge, op Google Earth en zoem in op Suid-Afrika, toe op Kaapstad, toe op my buurt, toe op die straat met ons huis.

Daar, sowaar, sien ek ons huis – die middelpunt van my gesin se wêreld.

Onder daardie rooi dak woon my naaste mense; onder daardie boom speel my kinders.

Toe zoem ek weer uit – my huis se dak, die straat, die buurt, Kaapstad, Suid-Afrika.

Ek vee met my vinger oor die aarde en zoem in op ander plekke – strate in ander stede, sanderige kolle in die woestyn, klein eilandjies in die Stille Oseaan.

Oral klou huise aan die aarde vas, en in elkeen van daardie huise is mense met hul eie kommer en drome. En tussendeur is daar soveel ooptes – vlaktes en berge en oseane met hul eie geheimenisse en ewigheid.

Later die aand begin ek op die internet lees oor van die plekke waarvan ek die name vir die eerste keer raakgelees het so tydens my reis om die wêreld.

Die geskiedenis van elke plek is lank – deur die eeue het elke plek sy eie tragedies en triomf beleef.

En vandag, op elkeen van daardie plekke, is daar mense wat dieselfde dinge ervaar waarmee ons nou spartel.

Mense met dieselfde vrae en vrese en gedagtes; mense wat saam met ons hierdie hoofstuk van die geskiedenis beleef.

Yvonne