En dít geld juis vir joernaliste wat hier by Huisgenoot werk. Waar ander korporatiewe tipes dalk gemaklike ruimtes met sagte stoele, lugversorging en die nabyheid van goeie koffie verkies, is daar dié wat eerder hul brood in die sweet van hul aangesig op die lang pad wil verdien.

Om die Suid-Afrikaanse landskap te deurkruis en ons land se mense in persoon te ontmoet en hul verhale met ons lesers te deel, is wat maak dat joernaliste so ’n passie het vir hierdie besonderse werk.

En al het die covid-19-pandemie daardie werkwyse van ons vir die afgelope paar maande in die wiele gery, is dit tóg moontlik om steeds die seer en die mooi van die land eerstehands te ervaar en weer te gee.

Jacques Myburgh vertel van sy reis deur die platteland en dit wat hy beleef het oor die rimpeleffek van die gewraakte virus op ons land se klein dorpies. Al kan ons nie self die uithoeke van ons land besoek nie, kan ons deur Jacques se oë ander se perspektief in dié pandemietyd sien. En weer besef: Daar is steeds ’n wêreld daar buite