Die Alibama het nou al sewe oseane (die diepste, die koudste, die soutste, die stilste, die vlakste, die grootste en die warmste) aangedoen, vyf eilande, twee woestyne en (teen druktyd) een oerwoud.

Pepe en Pipi – en my kinders – moes teen dié tyd al vreeslike dinge aanskou: diepseevisse, ’n vuurspuwende vulkaan, die mitiese strandjutwolf wat ’n gemsbok jaag, ’n spinnekop so groot soos ’n grootmens se hand.

So tussendeur beleef hulle ook wonderbaarlike dinge: Hulle ry op ’n seeskilpad se rug en ontdek ’n strand waar net honde woon.

Wat my verwonderd laat, is dat my kinders nie van stryk gebring word deur die afgryslike gedrogte wat die Alibama op sy avonture teëkom nie, en ook nie juis verbaas is oor die fabelagtige verskynsels waarvan hul ma hulle vertel nie.

Die wêreld, verstaan hulle klaarblyklik instinktief, is een van vreemde verhale – soms vreesaanjaend; soms betowerend.

Soos my vyfjarige eenmaal laat hoor het: “Dis hoe die lewe is, jong.”