Die een oomblik is daar twee selle; die volgende oomblik begin groei ’n nuwe wese. Die tyd gaan verby, selle vermenigvuldig, ’n nuwe asem snak.

Oor die eeue was miljoene van ons op aarde. Ons word gebore; ons sterf. Die aarde bly draai, geslag op geslag.

Ons is nie alleen hier op aarde nie – in die natuur is meer spesies as die dae van enige lewe. Wat onderskei ons van die voëls in die lug, die diere op die grond? Eintlik nogal min.

Ons moet eet, ons moet drink, ons moet rus. Ons wil speel, ons wil voortplant, ons wil hê.

So is dit ook met die hond in die tuin, die bokkie in die veld en die swaeltjie op die wind.

Wat maak dat ons stede bou, tegnologie ontwikkel, slimmer word met elke dag?

Die vermoë om na te dink, om te leer, om te verander, om te verbeel. Om te dink aan wat kan wees, nie net aan wat is nie. 

Ons kan ons die ergste verbeel. Wat kan gebeur? Maar ons kan ons ook die beste verbeel. Wat kán gebeur?

Dit is hoe ek wil leef in dié land.

Dit is die land waar ek gebore is, die land waar ek sal sterf. Die land wat my kinders en al hul tydgenote sal erf.

Hier woon 56 miljoen mense – elk die hoofkarakter in sy eie lewe.

Wat vrees ek?

Dat ons ons die ergste sal verbeel, nie die beste nie. Dat ons sal vergeet om te luister; sal ophou leer.

Waarop hoop ek? Dat ons sal onthou ons is saam in hierdie lewe; saam in hierdie land. Dat ons sal doen wat ons moet om saam beter te word.

Waaraan bou ek?

Aan ’n land waar ons word wat ons kan wees.

Is ons daar? Nee. Kan ons daar kom? Ja.

Nie as ons lamgelê word deur vrees of frustrasie nie, nie as ons vashou aan dit wat ons verdeel nie.

My pa sê altyd: Be a force for good. En dít glo ek: Die meeste van ons streef na die goeie.

Wanneer daardie twee selle saamsmelt, is dit die begin van nuwe lewe. Die begin van nuwe hoop. Die begin van nog ’n kans.

Kontak ons
  • Kontak my by redakteur@huisgenoot.com.
  • Huisgenoot onderskryf die Suid-Afrikaanse Perskode wat ons verbind tot joernalistiek wat waar, akkuraat, regverdig en gebalanseerd is.
  • As jy meen ons kom nie die kode na nie, kontak die Persombudsman by 011-484-3618 of pressombudsman@ombudsman.org.za.
  • Het jy nuusvoorstelle? Stuur e-pos na awessels@media24.com of bel 021-406-3309 met voorstelle vir artikels.