Hy was haar eerste baba. Hy is dood onder die wiel van ’n Land Rover op Kanon naby Vleesbaai se strand en my ma was ontroosbaar toe sy sy lewelose swart lyfie vashou.

Daarna het baie honde in my ma se huis gevolg: Vlooi, die stout straatbrak wat die kuikens gevang en lewend uitgespoeg het wat ek by ’n skoolkermis gekoop het; Stoffel, die bokser wat ’n pofadder gevang en deur die lug geswaai het tot die slang se lyf nerfaf van sy kop gebreek het; Sarie, die angstige staffie; Sammy en Emma, die lieflike retrievers; Teddy, die yorkiegeneraal; Poppie, die wit wolbol.

Ook op ’n kol Fleur, die Jack Russel wat my ma genoem het na die naam wat my ouma in haar laaste jare vir almal gebruik het.

My eerste eie honde, die bassets Neels en Niggie, is nou 10. Hulle het pantoffellywe, maar ook die energie van foxterriërs en skiet soos missiele deur die huis.

My ma sê altyd ’n hond se voete dra die reuk van al die myle wat hy al gestap het, en hier teen die einde kry hy ’n kyk in sy oë wat lyk na ’n blik op die ewigheid.

Vandeesweek plaas ons die oud-Huisgenoot-joernalis Marida Fitzpatrick se storie oor die lewe en dood van haar hond Bielie. Sommer net omdat baie van ons al ’n hond gehad het vir wie ons regtig lief was en wat ons gewys het wat liefde kan wees.