Ek kyk dit nie om meer te leer oor Bob Dylan nie, maar om iets te onthou van myself.

Baie jare gelede het ek as jong verslaggewer by my man in sy woonstel in Johannesburg ingetrek.

Daar was ’n enkelbed, een bank en ’n klein yskassie met net genoeg plek vir ’n sixpack Windhoek, een bottel wyn en ’n liter melk. Ons het min geslaap en baie gelees; ons het gedink ons is wild en vry.

Ons sou ure lank in die son op die mat in die leefkamer sit en gesels oor boeke en musiek. Soms sou ons stry oor dinge soos godsdiens, politiek en die geskiedenis – ’n nie-ongewone soort voorspel tot die huwelik.

Deesdae leer my kinders al die musiek ken waarna ek in my 20’s op wintermiddae in daardie woonstel in Johannesburg geluister het.

Ons glimlag stilweg wanneer die kleintjie saam met David Bowie sing: “Ground control to Major Tom . . .

Geleidelik leer my kinders die mens ken wat ek was voor ek hul ma geword het.

En ou Bob se Born in Time klink ál minder na ’n love song, en ál meer na ’n soort oorgawe:

In the hills of mystery,
In the foggy web of destiny,
You can have what’s left of me,
Where we were born in time. . .

– Yvonne