Die première van ons volgende fliek, gegrond op die ware liefdesverhaal van Hugo en Mardaleen Derks van Gobabis, is in Augustus volgende jaar en ek is sommer baie trots daarop dat ons dié twee se storie nou op die silwerdoek kan vertel.

Wat ’n voorreg om hierdie pad saam met hulle te kan stap!

Hul storie stap wye kronkeldraaie – van die studentelewe in Potchefstroom na ’n kommune in Londen; van Kaapstad met sy liggies en berg na die uitgestrekte vlaktes van Namibië.

Twee van my beste vakansies ooit – die een my wittebrood – was in dié land. Met ’n piepklein wit gholfie het ek en my man die duisende kilometers afgelê.

Elke keer wanneer ek lesersbriewe uit Namibië ontvang, dink ek terug aan daardie road trips.

Die sterre bo die Spitzkoppe, daardie reguit pad tussen Helmeringhausen en Aus wat byna nimmereindigend voel, die koue nagte in Etosha, die warm sand van Sossusvlei.

Ek is, soos Mardaleen, ’n regte stadsmeisie. Maar eendag wil ek ook vir my kinders daardie lieflike landskappe gaan wys sodat hulle kan sien hoe wyd en oop die wêreld lê.