Ek voel seisoen ná seisoen opnuut geruk oor die aangrypende verhale wat in dié reeks herleef – oor die stories wat ons al jare, in sommige gevalle dekades, lank bly boei.

Die groot seer van ondenkbare tragedies, die moed van gewone mense wat getoets word deur buitengewone omstandighede, verbysterende gebeure of weersinwekkende geweld – en die mens se vermoë om te midde van swaarkry deur te druk en weer op te staan.

Ek kry dikwels trane in die oë wanneer ek luister hoe die mense wat direk deur dié gebeure geraak is voor die kameras praat oor die dinge wat die koers van hul lewe in ’n oogwink laat verander het. Vir hulle is dit baiekeer die definiërende oomblikke van hul lewens.

Want dít moet ons nooit vergeet nie: Elke groot nuusstorie raak en ruk regte mense; mense nes ek en jy. Aan die kern van elke opspraakwekkende saak of dramatiese gebeurtenis is iemand wat ons met meegevoel in ons gedagtes en herinneringe moet dra.

Huisgenoot is al dekades lank ’n spieël vir die lewe – soms wys dit die mooi; soms wys dit die seer. Dit weerkaats die donker en die lig van die werklikheid rondom ons.

En om weer in ons televisiereeks te sien hoe baie van hierdie ware lewensdramas vertel word, is om daaraan herinner te word dat elke stukkie lewe uniek en kosbaar en broos is.

Huisgenoot: Ware lewensdramas is op Maandagaande om 20:00 op VIA, kanaal 147 op DStv, te sien.

Yvonne
redakteur@huisgenoot.com

Gesels met ons

Huisgenoot onderskryf die Suid-Afrikaanse Perskode wat ons verbind tot joernalistiek wat waar, akkuraat, regverdig en gebalanseerd is. As jy meen ons kom nie die kode na nie, kontak die Persombudsman by 011-484-3618 of pressombudsman@ombudsman.org.za.

Het jy nuusvoorstelle?

Stuur e-pos na awessels@media24.com of bel 021-406-3309 met voorstelle vir artikels.