Dit was nie net dié isolasietydperk wat die twee uitmekaar gehou het nie. Hul paaie het eintlik al in 1993 geskei kort nadat hulle mekaar destyds as jong mense leer ken het.

Sy het oorsee gaan werk, en hy het hier gebly.

Dekades het verloop, maar hulle het oor vastelande heen kontak behou. En toe, verlede jaar, besef die twee ná ’n kort besoek: Hulle hoort saam.

Maar toe Rhynie in Mei van Australië sou terugvlieg na Suid-Afrika, het die covid-19-pandemie haar planne gestuit.

Onlangs kon sy eindelik plek kry op ’n repatriasievlug, maar toe moes sy eers nog 14 dae in kwarantyn deurbring voor sy Rouvanne kon sien.

Hy het elke dag buite haar venster gewag en die ure en minute afgetel tot hy herenig sou word met die vrou wat sy hart al 27 jaar gelede die eerste keer laat galop het.

Huisgenoot was daar toe Rouvanne en Rhynie mekaar eindelik die eerste keer kon omhels noudat hul nuwe lewe saam begin.

Dekades, vastelande, ’n pandemie, die inperking – maar ondanks dit alles het hulle mekaar tog gevind.

En weer seëvier liefde in die tyd van corona. 

 —Yvonne

  • Huisgenoot onderskryf die Suid-Afrikaanse Perskode wat ons verbind tot joernalistiek wat akkuraat, regverdig en gebalanseerd is. 
  • Het jy nuusvoorstelle? Stuur e-pos na awessels@media24.com of bel 021-406-3309 met voorstelle vir artikels.