Ek het kollega Dennis Cavernelis se storie oor die ontwikkeling van Disney se heldinne só geniet.

Kleintyd wou ek eers die meisie wees wat “gehaal” word deur die ridder in die liedjie Die Blinkvosperd: Want jy’t gesê as ek jou wil hê dan moet ek jou kom haal op ’n mooi ryperd, ’n blink vosperd, met ’n splinternuwe saal . . .

Daarna wou ek ’n veearts word, toe ’n boervrou en sedert my tienerjare ’n joernalis.

Deesdae sien ek kans vir enige werk, enige uitdaging.

Ek vertel toevallig die afgelope tyd saans vir my seuntjies stories oor “superhelde”. Hulle het iewers gehoor van Superman, Spider-Man, Batman en die res, maar is nog te klein om dit te kyk, so ek maak die stories sommer op: elke aand ’n nuwe avontuur.

Hulle wil meestal net van Hulk hoor – “hy’s mos so sterk” – maar ek werk Catwoman en Wonder Woman ook in. Wonder Woman se spesiale krag, vertel ek hulle, is dat sy ’n klomp dinge gelyk kan doen.

Want g’n vrou is tog net een ding nie, en wie wil dan nou “gehaal” word as sy sommer self die haal-werk kan doen?