En dít, laat ek jou nou vertel, is inderdaad iets om op trots te wees. Want meer as vier dekades nadat ons eerste groot blokraai in 1978 in Huis­genoot verskyn het, bly ons blokraaie een van die belangrikste hoekstene van Huisgenoot.

Ons legendariese voormalige redakteur Niel Hammann was die baasbrein agter ons raaiselafdeling. Hy het groot blokraaie in Afrikaans bekendgestel nadat hy destyds in Europa gesien het hoe pendelaars dié formaat op treine verslind.

Ons het ons raaiselafdeling in die jare sedertdien uitgebrei en ’n hele rits spesiale raaiseltydskrifte bekendgestel. Die 26ste uitgawe van ons treffertydskrif Huisgenoot Blokraaie is juis nou op die rakke beskikbaar.

Verlede jaar het ons boonop die heel eerste aanlyn blokraaikompetisie in Afrikaans bekendgestel, en dis nou ’n maandelikse instelling. Toegang is gratis, en alle blokraaieliefhebbers is welkom om saam met ons te speel wanneer ons saam-saam – en baie mededingend! – blokraaie in die kuberruim invul.

Die volgende Blokraai Regstreeks-kuberkuier is op 22 April.

Maar nou begin ons woeker aan nog ’n eerste in Afrikaans: ’n Huisgenootblokraaiprogram op TV! Ja, dis reg: Ons blokraaie gaan hopelik binnekort in ’n opwindende nuwe speletjiesprogram op VIA lewe kry.

As jy een van ons getroue blokraailiefhebbers is, nooi ek jou om in te skryf vir die program – dit gaan groot pret wees vir almal wat deelneem, en wonderlike vermaak vir almal wat kyk hoe blokraaiboffins mekaar op die skerm aandurf.

Geniet intussen die blokraaie in hierdie tydskrif – dit bly darem net die lekkerste naweekvermaak!

Yvonne

Het jy nuusvoorstelle?
  • Kontak my by redakteur@huisgenoot.com
  • Huisgenoot onderskryf die Suid-Afrikaanse Perskode wat ons verbind tot joernalistiek wat waar, akkuraat, regverdig en gebalanseerd is.
  • As jy meen ons kom nie die kode na nie, kontak die Persombudsman by 011-484-3618 of pressombudsman@ombudsman.org.za.
  • Stuur nuusvoorstelle na nuus@huisgenoot.com of bel 021-406-3309 met voorstelle vir artikels.