Ons kyk na verskillende dinge op die veld. Die kleintjie wil heeltyd vir Siya Kolisi sien; die ouer een wonder hoeveel mense in die stadion pas. Ek kreun elke keer dat ’n speler plat­geduik word.

“Ek is bekommerd oor hul nekke; ek is bang hulle kry seer,” prewel ek kort-kort.

“Jy bederf dit vir my as jy so aangaan oor hul nekke,” grom my broer.

My ma kyk uit haar tydskrif op en vra my elke nou en dan: “Verstaan jy wat nou aangaan?”

Ná elke drie voel almal in die vertrek of ons ’n persoonlike oorwinning behaal het. Toe Makazole Mapimpi die tweede keer oor die doellyn duik, voel dit asof die jaar dalk eindelik begin sin maak.

Wat is dit met sport dat dit ons so saamsnoer wanneer dinge taai gaan? Is dit die tydelike ontvlugting wat dit bied, die idee dat mense saam iets kan bereik as hulle hard genoeg probeer, daardie oomblik wanneer jy dink als is verlore voor iemand deur die lug duik of ’n bal van doer deur die pale laat trek?  

Ek lag toe ek terugdink aan Faf de Klerk, die speler van die wedstryd, se woorde toe Huisgenoot ’n onderhoud met hom as Bok-nuweling gevoer het.

“Almal het gesê ek moet net my wedstryd jol wat ek jol,” het hy toe gesê. Dit het my destyds getref as ’n eenvoudige lewensleuse – maar een waarin daar dalk tog waarheid steek.

— Yvonne

Kontak ons
  • Kontak my by redakteur@huisgenoot.com
  • Huisgenoot onderskryf die Suid-Afrikaanse Perskode wat ons verbind tot joernalistiek wat waar, akkuraat, regverdig en gebalanseerd is. As jy meen ons kom nie die kode na nie, kontak die Persombudsman by 011-484-3618 of pressombudsman@ombudsman.org.za.
  • Het jy nuusvoorstelle? Stuur e-pos na awessels@media24.com of bel 021-406-3309 met voorstelle vir artikels.