Ons het pas die voorblad vir vandeesweek se uitgawe na die rolpers gestuur, en ek en my span teken die laaste bladsye se proewe af.

My hart is seer vir die mense oor wie ons in hierdie uitgawe skryf. Meer as 1 300 km van hier, weet ek, lê daar vanaand mense wakker in die Vaaldriehoek.

In Vanderbijlpark huil ouers oor hul kinders wat in die tragiese ongeluk by die Hoërskool Driehoek oorlede en beseer is.

Beraders en dominees bid vir die wysheid om môreoggend weer bystand te bied. By hospitale spook dokters en verpleegsters om kinders te help.

En in honderde huise worstel tieners met flitsbeelde van die traumatiese gebeure.

Ek stap ’n draai buite die gebou en kyk na die enkele sterre ver bo my, silwer spikkels teen ’n donker naglug.

Ek dink aan die kinders, die ouers, die gemeenskap vir wie niks ooit weer dieselfde sal wees nie.

Die nag is donker, en met ’n seer hart hoop ek die môre sal weer kom. 

  • Kontak my by redakteur@huisgenoot.com.
  • Huisgenoot onderskryf die Suid-Afrikaanse Perskode wat ons verbind tot joernalistiek wat waar, akkuraat, regverdig en gebalanseerd is.
  • As jy meen ons kom nie die kode na nie, kontak die Persombudsman by 011-484-3618 of pressombudsman@ombudsman.org.za
  • Het jy nuusvoorstelle? Stuur e-pos na awessels@media24.com of bel 021-406-3309 met voorstelle vir artikels.