In ons byna 17 jaar saam was ek en my man – sover ek kan onthou – op nog net een amptelike afspraak vir Valentynsdag. Dit was, as ek reg onthou, liggies rampspoedig. Maar ek is dikwels, weekliks, op doodgewone dae bly ons het mekaar gekies.

Eenmaal het ek in ’n oomblik van dankbaarheid vir my man gesê: “Ek kon nie met ’n beter man vir my as jy getrou het nie.”

Hy het op sy droë, ironiese manier geantwoord: “Hoe sal jy weet – is jy ’n sosioloog?” Ek het gelag, en hy ook, en ons het aandete gemaak en gesels en naby aan mekaar gevoel. Ek onthou daardie aand, en soveel ander aande, beter as enige Valentynsdag.

marguerite van eeden,sean-marco vorster,vergeet my
Marguerite en Sean-Marco saam met die regte Hugo en Mardaleen Derks. Foto: Misha Jordaan

Hierdie maand word Vergeet my nie, ons nuwe fliek, op 14 Februarie landwyd uitgereik. Dit is gemaak deur die wonderlike span van The Film Factory en in samewerking met kykNET. Dis geïnspireer deur die ware liefdesverhaal van Mardaleen en Hugo Derks van Namibië – en dis ’n lieflike, egte goedvoelstorie so reg na my hart.

Ons is bevoorreg en baie dankbaar dat hierdie twee spesiale mense hulle storie met ons gedeel het. Bespreek sommer binnekort jou kaartjies vir die openingsnaweek – ek hoop jy geniet die fliek net so baie soos ek het!