Dis net vyf maande gelede, maar dit voel soos ’n leeftyd terug. Soveel dinge het intussen verander.

Trouens, wat het nié verander nie?

Toe het ek nog op ’n vliegtuig gespring en vir die première van Kaapstad na Johannesburg gevlieg. Ons het in groepies buite die fliekteater saamgedrom en opgewonde gesels oor die jaar wat kom.

Styf teen mekaar gesit in die donker terwyl die mooi liefdes­verhaal op die silwerdoek afspeel. Nog niksvermoedend oor die dinge wat kom ondanks berigte oor die virus en gebeure anderkant die waters.

Dit het nog alles so ver gevoel.

Dit was spesiaal om die fliek – geïnspireer deur Mardaleen en Hugo Derks se ware liefdesverhaal – saam te vier, maar met die terugblik besef ek ook hoe kosbaar daardie samekoms was.

Ek mís mense en daardie wonderlike energie van gesels en gedagtes uitruil.

Eendag wanneer die pandemie en inperking iets van die verlede is, sal samesyn soos ’n groot geskenk wees.

Vergeet my nie is nou beskikbaar op DStv BoxOffice en jy kan dit saam met jou geliefdes tuis kyk.

Ons gesels met die aktrise Elani Dekker, wat in die fliek die rol van Nicky vertolk.

Sit styf teen mekaar en trek die kombers nader wanneer julle so inskuif vir die stukkie kykgenot.

Niks bied in hierdie koue dae soveel vertroosting soos die nabye teenwoordigheid van ander mense nie.

– Yvonne

  • Kontak my by redakteur@huisgenoot.com
  • Huisgenoot onderskryf die Suid-Afrikaanse Perskode wat ons verbind tot joernalistiek wat waar, akkuraat, regverdig en gebalanseerd is.
  • As jy meen ons kom nie die kode na nie, kontak die Persombudsman by 011-484-3618 of pressombudsman@ombudsman.org.za
  • Het jy nuusvoorstelle? Stuur e-pos na awessels@media24.com of bel 021-406-3309 met voorstelle vir artikels.