Die Vrydag voor sakdag word ’n dogtertjie gebore. Haar pa is nog in China toe sy die wêreld binnekom – duisende kilometers van Kaapstad, waar haar ma sonder hom met daardie seer wat net ’n vrou kan ken aan hul eersteling lewe gee.

Die vlug waarmee hy na Suid-Afrika gerepatrieer sou word, is afgestel. Dit was onmoontlik om huis toe te kom vir die geboorte van sy dogter, al het hy hoe hard probeer.

Maande lank was sy vrou sonder hom hier swanger; maande lank het sy gewonder en gewag en gehoop dat haar man ondanks alles betyds sou kon terugkeer.

En toe, op ’n dag, laat weet die dokter: Dis tyd. Nuwe lewe wag op niks en niemand; dis groter as als. By die dogtertjiebaba se ma in die kraamsaal is haar skoonsuster, Huisgenoot se hoofbestuurder. 

Dis sy, ’n familielid, wat op hierdie winterse laatmiddag die nuwe ma se hand vashou en toekyk hoe ’n nuwe mensie gebore word.

Dis sy wat deel is van daardie onbeskryflike ervaring wanneer ’n vrou haar nuwe baba die eerste keer vashou.

Ver anderkant die waters kry die dogtertjie se pa in China ’n foto: Hier is sy. Veilig en gesond. En hy wag op die vlug wat hom na sy vrou en kind sal bring.

In ’n vreemde, ongekende tyd vind ons nuwe maniere om mekaar te ondersteun en nuwe maniere om daar te wees vir mekaar.

En die lewe gaan steeds sy gang, met nuwe asem en ’n nuwe kans elke dag.   

Yvonne

  • Kontak my by redakteur@huisgenoot.com
  • Huisgenoot onderskryf die Suid-Afrikaanse Perskode wat ons verbind tot joernalistiek wat waar, akkuraat, regverdig en gebalanseerd is.
  • As jy meen ons kom nie die kode na nie, kontak die Persombudsman by 011-484-3618 of pressombudsman@ombudsman.org.za
  • Het jy nuusvoorstelle? Stuur e-pos na awessels@media24.com of bel 021-406-3309 met voorstelle vir artikels.