Ek is op pad weg vir die naweek, en die liedjie oor die radio en vooruitsig van swem in die see laat my terugdink aan ’n soortgelyke rit baie Desembers gelede. Dit was 1983 of 1984, en ek en my pa was van Johannesburg op pad na Fransmanshoek naby Vleesbaai.

Dit was nog donker toe ons in die pad geval het, en ek het die eerste ruk op die agtersitplek lê en slaap terwyl hy bestuur. Ek was drie of vier. My ma sou eers die volgende dag saam met my boetie, toe nog ’n baba, George toe vlieg, en ons sou hulle dan op die lughawe gaan haal vir ons vakansie by die see.

Ek onthou daardie lang rit goed: hoe ek wakker word met die sterre wat nog buite die venster aan die oggendhemel hang, hoe my pa The Police op ’n kasset luister, hoe ek eers ’n groen appel en dan ’n Chomp op die agtersitplek eet.

Hoe ons by een van daardie betontafeltjies langs die hoofweg stop vir middagete. Ek sou dieselfde vraag as elke ander Desember daarna vra toe ons eindelik, ná baie ure op die pad, oor die nek van die grondpad afry met Stilbaai aan die een kant en Malbaai aan die ander kant.

Hoe lyk die kondisies, Pappa? Dan sou my vissermanpa sê: “Suidoostewind – elwe en stompkop; miskien bloublasies.” Of: “Westewind – kabeljou.”

Ek kan nie onthou wat ek daardie jaar vir Kersfees gekry het nie, en die herinnerings aan daardie vakansie is vervleg met dié van ander Kersvakansies daarna. Maar ek onthou ek en my pa, en die pad na ons vakansie by die see. 

Kontak ons
  • Kontak my by redakteur@huisgenoot.com
  • Huisgenoot onderskryf die Suid-Afrikaanse Perskode wat ons verbind tot joernalistiek wat waar, akkuraat, regverdig en gebalanseerd is. As jy meen ons kom nie die kode na nie, kontak die Persombudsman by 011-484-3618 of pressombudsman@ombudsman.org.za.
  • Het jy nuusvoorstelle? Stuur e-pos na awessels@media24.com of bel 021-406-3309 met voorstelle vir artikels.