Kleintyd het ek saam met hom oor die rotse geklouter wanneer hy gaan visvang het, en hy was die een wat dorings uit my voete en splinters uit my vingers gehaal het.

Vandag nog wanneer ek wil raad vra oor werk, geldsake of groot lewensbesluite, is hy die een wat ek eerste bel.

Hy is ’n netjiese, agtermekaar man, maar het al vrede gemaak met die warboel in sy dogter se huis.

Wanneer hy kom kuier, bring hy sommer self die dinge saam wat ek altyd vergeet om te koop.

Ek staan lankal op my eie voete, maar hy laat my steeds veilig voel.

Een van die aangrypendste stories in dié uitgawe is egter dié van ’n afwesige pa.

Op bl. 16 vertel Steve Jobs se oudste dogter, Lisa, van haar moeilike verhouding met die Apple-stigter.

Al was hy skatryk en suksesvol, was hy suinig met sy liefde.

Hy het sy dogter se hart keer op keer gebreek. Dit het my laat dink aan ’n treffende gedig deur die digter Nayyirah Waheed.

Die titel is How My Father Raised Me: he said ‘my absence is strong and warm. it will hold you. it will teach you how to miss. how to be without. and how to survive anyway.’