Hoop op iets anderkant die stukkende hede voel vergeefs.

Dis ’n oomblik waarmee Hein Knoetze, hoof van die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark, nou onlangs gekonfronteer is toe vier kinders dood en meer as 20 beseer is toe ’n brug by die skool ineengestort het.

Dié tragedie het die gemeenskap net ses weke voor Hein se aftrede geruk. En wat besluit Hein toe? Om ná sy aftrede op 15 Maart weer terug te keer skool toe om daar te help met enigiets waarmee hy kan.

Nadat hy en sy vrou die bokse in hul aftreehuis by die see uitgepak het, gaan hy weer by Driehoek aanmeld en betrokke bly tot hy voel die gemeenskap is weer op sy voete.

“Want hier by die skool met sy somber atmosfeer is ook hoop,” verduidelik hy – en hy wil deel wees van daardie hoop. Hein is ’n voorbeeld vir almal van ons wat soms wanhopig voel oor hoe seer en stukkend sommige dinge in hierdie land is.

Ons mag nie onttrek nie; ons mag nie ophou betrokke raak nie; ons mag nie ophou woeker en werk nie; ons mag nie ophou probeer nie.

Dit is óns – almal van ons – wat saam moet bou aan iets heels anderkant die hede.

Hoop herrys uit jou hart én uit jou hande. 

  • Kontak my by redakteur@huisgenoot.com.
  • Huisgenoot onderskryf die Suid-Afrikaanse Perskode wat ons verbind tot joernalistiek wat waar, akkuraat, regverdig en gebalanseerd is.
  • As jy meen ons kom nie die kode na nie, kontak die Persombudsman by 011-484-3618 of pressombudsman@ombudsman.org.za
  • Het jy nuusvoorstelle? Stuur e-pos na awessels@media24.com of bel 021-406-3309 met voorstelle vir artikels.