Omdat ek daagliks dieselfde roetine gevolg het, het ek elke dag dieselfde dinge geëet.

Ek het spartaans geleef en maer geword; ek was ’n gespanne wrak. Die dae het lank en eensaam begin raak.

Een namiddag kon ek die gedempte stilte nie meer uithou nie. Ek het by ’n kafee op die hoek ingestap en terneergedruk voor die rakke gestaan.

Iets in my het gehunker na ’n ronde bord kos uit my herinneringe. Sonder ’n resep in gedagte, het ek spaghetti, spek, knoffel, botter en parmesaan op die toonbank neergesit.

“You need an egg,” het die suur Skot agter die toonbank gesê.

“Sorry, what?” het ek gevra.

“You need an egg,” het sy weer gesê. “What you are making is clearly a carbonara. You can’t make a carbonara without an egg.”

Sy het vir my ’n boksie eiers gaan haal, die kasregister laat klingel, en ek is daar weg.

Die aand het ek ’n bak pasta genoeg vir vier mense gemaak, in my bed geklim en alles opgeëet. Dit was tegelyk ’n laagte- en ’n hoogtepunt.

En ek het daarna beter gevoel.

Ek het weer aan daardie trooskos gedink toe ek onlangs deur my kopie van Huisgenoot Bederfkos se tweede uitgawe blaai op soek na ’n lekker resep vir ’n koue winteraand.

Dié wonderlike tydskrif vol uitsoekresepte is nog tot einde Julie op die rakke. Moet dit nie misloop nie – dis ’n wenner en jy en jou mense sal groot vreugde uit sy geregte kry.

Wil jy saamsmul?
Bederfkos 2 is nou te koop teen R47. As jy dit nie in die winkels kan opspoor nie, bestel dit by Johan Terblanche by johan.terblanche@Media24.com of 021-406-4962 of gaan na ­huisgenootwinkel.com. Jy kan dit ook digitaal koop en by mysubs.co.za ­aflaai.