Hoe minder leë blokkies oorbly, hoe meer gefrustreerd raak sy. “Nee, o aarde, dis te moeilik!” sal sy dan skel, net om weer deur te druk.

Ek lag net en lê laag tot alles – of amper alles – mooi in plek val. Eers dán kan ons weer tee drink of oor ander dinge praat.

Toe ek op 18 Junie inskakel vir Huisgenoot se eerste regstreekse uitsending van ons nuwe aanlyn blokraaispeletjie, Blokraai Regstreeks, was ek dus diep opgewonde om ander woordeliefhebbers op die skerm in aksie te sien.

En mens, was dit iets om te aanskou!

Blokraai
Foto: verskaf

Ek was ná die uitsending – ’n kombinasie van ’n blokraaikompetisie en kuberkuier – skoon bewerig van die adrenalien.

Dit was so lekker, ons gaan dit sommer weer doen. Een van ons blokraai-opstellers, die gesoute woordsmid Gerda Engelbrecht, bied Blokraai Regstreeks aan, en 50 blokraailiefhebbers kan op ’n slag deelneem.

Dit kos net R50 om saam te speel en deelnemers kry ook ná die tyd ’n spesiale PDF-boekie met bonusblokraaie.