Toe ek die storie lees oor Paula Kingham se soektog na haar katte (bl. 20), het ek eensklaps die oggend iewers in die laat 1980’s onthou toe ons voordeurklokkie kort ná seweuur lui.

Voor die deur was die bure se seuntjie in sy grys skoolbroekie en wit hempie. Asemloos van afwagting oor die impak van sy nuus het hy gesê: “Your cat is dead.”

Ek onthou die koue skok wat deur my borskas ruk; die lewelose grys lyfie in die pad voor ons huis. Daar was daarna ander katte; ander diereasems. Ander lewens; ander sterftes.

Maar iets aan daardie oggend in Port Elizabeth – aan die vreemde gelatenheid in die buurseun se stem en die dag wat aangaan asof dit reeds van dié kortgeknipte lewe vergeet het – bly my by.

My ma sê later in jou lewe is dit die herinnerings aan jou kinderdae wat vertroosting bied teen die dinge wat die lewe bring.

Dalk is dit wat Paul Theroux bedoel het in sy kortverhaal The Best Year of My Life: “This whole plot – the beginning, the middle, and the end – had been lived before by others, but I had had to live through it myself to understand it, to know that the memory of pain can itself be a painkiller.”

Miskien is alles wat gebeur voorbereiding op die verloop van tyd en op hoe jy daardie onmoontlike besef eindelik verwerk.